Satellite
Show on map
  • Day 8

    White sand beach,

    January 27, 2023 in Indonesia

    Vandag is on laaste dag in Candidasha en dit lyk of dit 'n pragtige dag gaan wees. Swemklere aan en ons is reguit oppad na die bekende White Sand Beach toe. Ons betaal 20k rupiah on toegang te kry tot die strand. Ons parkeer bo en wandel die min of meer 400m af na die strand toe tussen deur palmbome en ruig tropiese woud. Die gedruis van die see is die eerste leidraad van wat voor ons versteek lê en wag. Die Woud trek oop en omraam 'n pragtige wit strand en kristal helder blou water.

    Ons stap van die een hoek tot die ander hoek, elke restaurant eienaar kom wys hulle spyskaart en probeer ons oortuig om 'n drankie by hulle te drink, maar ons wil eers verken.

    Uiteindelik aan die ander punt van die strand en ons pak ons goedjies onder 'n boom uit. Corné  sien 'n grot en wil graag tot by die grot swem, goggels aan hardloop hy die see in en spring met mening in die golf... Iets is fout, hy kom weer uit vat vat aan sy toon en sê dis gelukkig nie stukkend nie, maar iets aan die toon se posisie lyk nie reg nie. Voor ek weer iets kan sê is die man terug in die water.

    Hy swem tot by die grot, maar gaan nie in nie. Hy baljaar nog 'n paar minute in die water en kom toe weer uit.

    "Jy moet die mooi vissies kom sien" sê hy soos hy sukkel sukkel uit stap. "Oh en ek het my klein toon ontwrig. Maar hy is darem weer terug in lit."

    Ons maak 'n tydelike buddy strap vir die toon met my haar rekkie en sit 'n rukkie, maar Corné wil nog swem. Iets soos 'n ontwrigte toon kan hom mos nie keer nie.

    Dié keer gaan ek saam, nie eens 20 meter in nie en jy kan klaar die koraalrif sien. Die verskeie vissies swem saam in reënboog skole en gly geduldig vorentoe en terug saam met die getui. Dis 'n besonderse ervaring. Na so 15 minute se swem is ons weer uit. Ons stap tot by die eerste restaurant en eet 'n sappige burger.

    Die blou water spoel oor die wit sand en in die verte hoor mens voëls sing. Ek kan sien Corné wil eintlik weer gaan swem maar sy toon is nou te seer. Ons geniet die natuurskoon vir 'n rukkie langer voor ons die trappies aan durf na ons bromponie.

    Soos ons weg ry van die pragtige kus, sien ons die donker wolke nader. Ons het die weer perfek gevang. Ons stop by 'n apteek om vir Corné pyn medikasie te kry en egte verbande om dit reg meer te verbind.

    Corné:"Nee die hospitaal is onnodig, ek is mos 'n dokter!"

    Dit begin weer reën nes ons by Karma resort stop. Ons groet die Dene en hulle vertel ons van hulle ongelooflik duik saam met Manta ray. Hulle stel toe ook voor dat ons bietjie die hawe besoek, dis blykbaar 'n kleurvolle plek.

    So op hul voorstel, en toe die reën weer bietjie bedaar, is ons weer uit op die bromponie. Links uit Candidasa afdraai, in plaas van ons gewone regs. Ons stop by die hawe en neem 'n paar fotos en verken die pragtige landskap van die omgewing verder, maar die reën vang ons weer. Twee keer is arme Corné deurnat aangesien hy dien as windskerm voor op die bromponie. Aandete is 'n tiepe  mikrogolf noodles wat ons sommer in die kamer aanmekaar slaan. Corné sin was baie spicy!

    Daar was ongelukkig nie nog geswem nie, maar dit was 'n goeie rus week.
    Read more