Satellite
Show on map
  • Day 12

    Rus en Rys Terrasse

    January 31, 2023 in Indonesia ⋅ 🌧 24 °C

    Vandag is uitgesit vir rus en vrede. Ek is die afgelope paar dae bietjie siekerig, maar nie siek genoeg dat dit ons aktiwiteite in perk nie, maar vandag skree my lyf vir 'n stadiger pas. Ek spandeer amper die hele dag in die bed. Staan net op vir ontbyt en die nodige. Teen 14 uur voel ek weer mens en ek kan saam met Corné weer verken en die wêreld aanpak. Ek het 'n groot behoefte om in my eie bed te lê, maar darm is Corné by my so dis voldoende.

    Corné aan die anderkant het die reënweer aangepak. Die amptelike verskoning was om 'n apteek te besoek om iets te kry om my op te kikker, maar die bromponie en die vreemdheid van 'n onontdekte land om te verken was te veel.

    Corné: Die kuns in Ubud is net fantasties. Ek het die meeste van die dag by die verskeie kuns winkeltjies myself visueel dik geëet aan al die mooi werke wat op skou was en fisies dik geëet aan die verskeie straat kosse, meestal een of ander groente of hoender dis wat in olie gekook was. Natuurlik was ek ook by die apteek in, maar ek dink die beste medisyne vir Rulanda was op die ou einde 'n yskoue Coke.

    Later die middag het ons met die bromponie tot by die Tegalalang rys terrasse gery. Dit is weereens eintlik baie naby, in Suid Afrikaanse terme, maar die konstante bedrywigheid op die paaie maak dit ongeveer 40 minute se ry tot daar.
    Rulanda: Corné neem ons deur 'n houtwerk dorpie, en die houtwerk wat uitgestal word is asemrowend. Allerlei stukke, van klein gedetailleerde stukke tot massiewe beeldhou werk, meubels en weereens pragtige deure, is op skou. Die meubels se afwerking en patrone in die meubels is besonders.

    Corné: Ons arriveer uiteindelik by die parkeer area en betaal 25k Rupiah per persoon om die terras te sien, deur die hek en af met al die trappies en skielik is dit nog 10k Rupiah per persoon om in die terrasse te stap. Dis nogal iets wat ek die afgelope paar dae begin opmerk het, hoe elke klein plekkie nogal die toeris laat betaal, al is dit dieselfde uitsig wat jy bo van die pad af kan geniet. Dit was blykbaar nie altyd so nie, eens op 'n tyd was daar meestal net donasies gevra, maar weer besef 'n mens hoe 'n blywende impak die Covid pandemie gehad het. Ek wil nie glo dis alles net geldgierigheid nie.

    Tegalalang is ook waar die ikoniese Bali swaai fotos geneem word. Die terrasse lê laag op laag soos trappe uit die kante van die kloof gekerf. Hier en daar is daar rys aan die groei, selfs 'n terras of twee wat reg is om geoes te word, maar dit lyk of meeste van die terrasse nou net leë poele is. Dalk onlangs eers geplant. Dit bly steeds mooi, maar die terrasse opad na Lempuyang tempel was vir my veel mooier.

    Rulanda: Geskok stap ons die stukkie wat ons wel mag stap sonder om verder te betaal. Daarna ry ons tot by 'n naasliggende koffie winkel om 'n verniet uitsig te geniet en 'n lekker lime juice te drink. Corné drink weer 'n swart Balinese koffie met 'n bietjie suiker.

    Oppad terug wandel ons by 'n paar houtwerk winkels in verkyk ons aan die detail. Eintlik opsoek na 'n skaak stel. Ons was ongelukkig onsuksesvol in ons soektog om een te vind.

    Dit raak weer laat na die rit terug, maar ons is nog nie lus om terug te keer na die hotel nie, so ons ry verby ons normale af rit en oor 'n bruggie met twee enorme aap standbeelde wat weerskante wag hou.

    Dis 'n kort entjie en mens kan sien ons is weer in 'n meer landelike gebied. Vanaand smag ek weer 'n baie spesifieke dus: satay ayam, anders amptelik bekend in Afrikaans as "daardie flippen lekker hoeder stokkies met die grondboontjiebotter sous".

    Die manier om die Warungs te identifiseer is aan so bitter klein braaitjie wat gewoonlik voor die ingang staan. Die hoender word daarop gaar gemaak, soms met die help van 'n blaas apparaat wat die kole aan help.

    Die eienaar van hierdie spesifieke warung is duidelik nie gewoond om Westerse mense op 'n gereelde basis te sien nie. Hy praat byna glad nie Engels nie en ons sukkel om enige sin inligting oor pryse of porsies te verkry. Ons "settle" toe maar vir drie porsies en hoop dis genoeg, die prys was aansienlik minder as wat ons verwag het. Ons kan altyd na die tyd êrens anders ook stop.

    Corné: Die chef vat toe 'n laaste trek, skiet sy sigaret die straat af en gryp toe 'n groot handvol van die reeds voorbereide stokkies met die hoender op uit 'n bak in die yskas en begin dit in die sous te doop. Dis 'n enorme hoeveelheid, byna die hele bak, dit kan seker nie alles vir ons wees nie! Ons sit en bekyk die storie by die enkele klein tafeltjie in die klein restaurantjie. Dis nie lank nie en ons word bedien met 'n klein bergie kos. Laggend begin ons die kos verslind. Dit was toe alles vir ons. Ons smul heerlik aan die soet hoender. Hopelik kry ons nie "Bali Belly" nie, dis blykbaar 'n ding hier.

    Rulanda: Nadat ons geëet het ry ons so bietjie verder aan en vind 'n tweede plekkie tussen die rysvelde om 'n skemerkelkie te geniet terwyl die son sak. Ons sit en knoop 'n geselsie aan met Made, die eienares.

    Corné: Rulanda kan natuurlik nie haarself help om die arme vroutjie 'n bietjie te fisio nie.

    Dis 'n vroeë aand en 'n bietjie 'n episode op Netflix kyk.
    Read more