Satellite
Show on map
  • Day 11

    Mount Batur

    January 30, 2023 in Indonesia ⋅ ☁️ 18 °C

    Dis 01:30 en ons word vriendelik wakker bel deur ons hotel ontvangs. Klere aan, tas op die rug en ons is oppad. Soos ons bo kom gee die ontvangs se vriendelike klerk vir ons ontbyt pakkies en beduie dat ons vervoer al vir ons wag. Gelukkig is ons vyf minute vroeg. Ons bestuurder groet en sê hy moet nog 4 ander gaste kry, so ons beter wikkel. Corné klim sommer voor in en ek sit agter hom. By die eerste Hotel klim twee jong Deense dames in en by die tweede hotel twee Hongaarse mans. Almal is maar stil en ontwaak nog, veral ek, dis immers nog eintlik 'n sinlike tyd om aan die slaap te wees.

    Ons stop by 'n klein restaurant waar ons koffie en pannekoek met piesang op eet. Dis glo om ons krag te gee vir die stap tog. Ek is dankbaar vir die eier en croissant wat ons gekry het in ons breakfast pack. Corné het syne al in die kar verslind. Die ontbyt wat saam met die uitstappie ingesluit is, is eintlik maar min. Daar is verskeie groepe wat ook hier afgelaai word en ontbyt eet. Die vertrek borrel met 'n effe senuagtige atmosfeer, of is dit net ek wat so voel?

    Om 02:30 vertrek ons almal in konvooi na die berg. Dis effe verder weg as wat ons verwag en dit voel of ons eers oor een berg moet ry om by die volgende een uit te kom, maar in die donkerte is dit moeilik om te sê.
    Êrens hoog bo op die eerste berg gaan stop die bestuurder by 'n vreemde, steil afdraai. Terwyl ons wag ontvang hy 'n oproep en op die volgende heuwel stop hy vir 5 minute en die volgende oomblik gee hy vet by die huwel af, half pad af versnel hy verby verkeersbeamptes wat fluitjies blaas en vlae waai, maar geen kar stop vir hulle nie, ons uwe bestuurder inkluis. Die bestuurder gee 'n klein laggie en die res van die kar breek uit in verskillende tale soos elk bespiegel wat so pas gebeur het. 'n Paar minute later en die liggies om die Batur Meer lê soos 'n kusdorpie doer onder ons. Die pad kronkel afwaarts en binnekort is ons by ons bestemming.

    Hier ontmoet ons ons gids, Budi. 'n Jong man wat die berg soms tot twee keer 'n dag uitstap. Hy gee aan almal 'n flits en vir Corné sy foon met die liggie wat skyn. Dit blyk asof die organiseerders nie vir hom gesê het ons gaan 6 mense wees wat stap nie, Corné gee die foon weer terug en stap in my koplig se lig. Die nag bo ons is 'n diep ondeurdringbare swart as gevolg van die laagliggende wolke. So slaan ons in die pik donker uit op 'n nagmars die oerwoud in.

    Die eerste kilometer is 'n enkel voetslaan pad waar die woud vinnig in groete lande aan beide kante verander. Ons kan kort kort die berg voor ons sien en die stippellyn liggies wat soos vuurvliegies die steilte uit klouter. Van die mense moes seker al vroeër as ons wakker gewees het! Die steilte lyk intimiderend.

    By die volgende kruising vra Budi ons of ons die kort pad neem of die lang pad wil neem. Ek vermoed iets raak in die taal gaping verlore want hy laat klink dit of die kort pad makliker is, ons vind dan eers later uit dit is steiler. George, een van die Hongare, lyk al klaar rooi in die gesig. Ons besef hy stap in 'n lang denim broek. Dié gaan 'n lang dag wees vir hom. Die warm humiditeit is nie veel minder in die aand as wat dit in die dag is nie.

    Vir die volgende twee kilometers stap ons op teen die berg op 'n teer pad, dis 'n maklike stap maar weereens is dit redelik steil. Ek en Corné bevestig 'n paar keer hoe dankbaar ons is dat doe son nog nie skyn nie, en ook hoe sinlik ons stap klere is in vergelyking met arme George. Ons neem hier en daar 'n paar minute om vir George te wag, hy klim al hoe swaarder en het nog intussen ook 'n sigaret gerook. Op die 3 kilometer merk begin die eintlike klim eers. Ons is nou tussen verskeie groepe en speel kort kort aflos met 'n groep wat aan beweeg die oomblik wat ons stop om te rus. Daar is net soveel plek om te staan op die noue kransies.

    Die tog op is 'n nou kronkelende pad vol los, verbrokkelende volkaniese klippe. Die donkerte versteek dit goed, maar hier en daar verraai die liggies in die verte dat ons langs 'n baie styl afgrond loop. Gelukkig is Corné daar om my elke nou en dan 'n gerusstellende hand op my rug te plaas as my hoogtevrees my begin benoud maak.

    Ons bereik die eerste piek om 05:15. Daar word vir 'n paar minute fotos geneem en asem, en in George se geval 'n sigaret, geskep. Die eerste tekens van die volkaan se ondergrondse aktiwiteit word hier al gesien in die vorm van warm stoom wat by 'n gat in die grond uit tuit.

    Teen 05:45 is ons bo op Mount Batur. Mount Agung lê voor ons en die wolke wat al om die berg reeks lê en sluimer. Dis vreemd om te dink ons was net nou die dag daar. Die eiland voel soms so groot en ander kere weer so klein.

    Die wind is ysig, maar ons is tevrede in ons verwondering. Gelukkig het ons windjakkers gepak. George is ook darem lewendig bo, danksy die pakkie Rehydrate en gummy swieties wat ons hom op gereelde intervalle gevoer het. Soos hy sê, in Hongarye slaap en rook 'n mens maar net want die weer daar is nie so goed vir bergklim nie. Hoe moes hy weet dit gaan so tough wees! Sy vriend, wie se naam ons nooit geleer het nie, sit wel en bewe in sy dun katoen hemp. Het die buitelanders nog nooit gaan berg klim nie? Ons leen een van die handdoeke wat Corné in die rugsak saam gedra het vir hom om as 'n kombers te gebruik. Soos Douglas Adam's, via Corné, altyd sê: always travel with a towel.

    Om 06:15 is sonsopkoms, maar weens al die wolke sien ons dit nie. Die berg Agung word wel al hoe helderder soos die donkerte stadig terug trek, 'n sakkende getui wat die skoonheid ontbloot.

    Budi bring vir ons gekookte eiers en 'n broodjie met nog piesang op vir ontbyt. Corné verken en neem foto's. Net 'n paar minute na die ontbyt gearriveer het, slaan die apies op die bewonderaars toe. Ai, ek verpes hulle so! Oorals hoor jy 'n gegil of 'n metaal bak wat val soos iemand onverwags hul ontbyt aan 'n harige handjie af staan.

    Corné vra toe of ons na die stoom toe kan stap en Budi neem ons tot by 'n bron. Dis besonders hoe die warm stoom uit die berg uitkom. Dis in dié stoom wat hulle glo die eiers kook. Die hitte maak 'n sterk teenstelling teenoor die koue wind bo op die berg. Dit voel hemels om my koue hande in die hitte te hou. Ons neem 'n foto voor een van die groter stomende uitlaat gate wat soos skoorstene na bo strek uit die dieptes van die sluimerende volkaan. Die gidse ken al die truuks en blaas 'n smeulende wierook kooltjie by van die gate in wat die stoom dikker laat uit peel. Corné moet dit natuurlik ook self probeer.

    Die pad af is darem nie dieselfde een wat ons op geneem het nie. Dit was vir my 'n groot gerusstelling, veral na ek in die daglig kon sien hoe steil die optog eintlik was! Dis 'n glip en gly tot onder en oppad af, tot my groot verbasing, is daar self 'n paar brawe siele wat gebruik maak van 'n rit agter op die scrambler motorfietse wat die inboorlinge met groot vernuf teen die berg op en af ry. Ek dink nie ek sal so braaf wees nie! Budi wys ook vir ons die letsels wat die volkaan se vorige uitbarsting op die landskap gelos het, 'n donker strook wat uit die ryg tropiese groen gekerf is, so al aan ons linkerkant af. In die middel is daar 'n enkele kol oorblywende groen, amper soos die yin in die yang van die Asiese simbool. Blykbaar 'n tempel wat op 'n heuweltjie gebou is. Die enigste menselike of natuurlike ding wat die vloeiende vuur ontsnap het.

    Daarna is dit 'n kort stappie deur die woud tot by die bussies. My bene is nou reg vir die warmwaterbronne!

    Uit ons oorspronklike ekspedisie is ons die enigste twee wie ook vandag die bronne besoek. Die paadjie tot by die bronne kronkel, soos alle paaie in Bali maar kronkel, oor die merkwaardige landskap wat duidelik gevorm was deur die volkaan en sy uitbarstings. Heuwels soos gevriesde golwe met rowwe klippe so groot soos klein huisies wat lukraak oor daaroor gestrooi is.

    Die water is salig en ons swem in (byna) elke poel. Die poel met die slippery slide is, tot Corné se groot teleurstelling, buite werking. Ek kan die trekke op sy gesig sien, maar dit is darm kortstondig. Die uur en 'n half wat ons hier deur bring vernuwe die spiere, maar maak die lyf lui.

    Ek kan nie veel sê oor die pad terug nie, die hoë energie stap tog, min kos, humiditeit en nou draaie maak dat ek besonders kar siek is. So met die lugversorging op full blast, oë toe en op Corné sê skoot spandeer ek heelpad semi horisontaal. Plek plek sluimer ek vir 'n paar oomblikke. 800m voor die hotel kan ek net nie meer nie en ons arme motorbestuurder moet aftrek sodat ek buite my asem kan vang. Ai, die simpel karsiek raak!

    Die res van die dag slaap ek en Corné lees boek.

    Aand ete is spring rolls en quesadillas.
    Read more