Satellite
Show on map
  • Day 10

    'n Dag in Munich

    June 19, 2022 in Germany ⋅ ☀️ 30 °C

    Ons het die dag begin met die rooibusse (hop on hop off). Hulle het 3 roetes wat elk 'n uur neem, deur die stad, Nymphenburg paleis toe en deur Schwabing. Daar is so baie geskiedenis en sulke mooi geboue. Ek het altyd gewonder wat die groot ophef is oor al die geboue in Europa wat almal so post op hulle vakansies... tot mens voor hierdie geboue staan. En die kerkklokke lui en dit voel of jy in 'n fliek is.
    Ek het sonbrandroom in my oog gekry, wat toe baie brand en my oog laat swel, so na die busse is ons eers na Wilhelm se hotel om oogdruppels te kry. Dis regtig handig om in sulke situasies saam met iemand te reis wat spesialiseer in oftalmologie, want waar anders sou ek oogdruppels kry? Alles in Duitsland is toe op 'n Sondag, daar is net 'n paar enkele restaurante en museums oop.
    Ons het toe gaan eet by 'n straat restaurantjie en die trein gevat na BMW museum en die olimpiese park. Die BMW museum is nog besonders. Dit het die hele geskiedenis van BMW en modelle van die karre, motorfietse en vliegtuig enjins, asook die kleimodelle van die karre en nog baie goed. Ook, BMW maak Rolls Royce. Interessant - wanneer hulle aan 'n nuwe model werk en dit toetsbestuur plak hulle hom met 'n film vol swart en wit lyne in verskillende rigtings sodat mens nie die vorm van die nuwe model kan uitmaak tot dit vrygestel word nie.
    Na die museum het ons na die 'welt' gegaan waar klomp nuwe karre uitgestal is. Die elektroniese karre is amazing. En daar was 2 Rolls Royce karre.
    Ons is toe olimpiese park toe, waar Wilhelm in die olimpiese swembad gaan swem het. Daarna is ons na die Englischer Garten. Dis 'n groot park in Munich waar mense piekniek hou op die groot grasperke en sport speel, mense ry fiets of stap deur die park, en daar is 'n rivier wat daar deur hardloop waar mense (en Wilhelm) inspring en afswem, en daar is selfs plekke in die rivier waar hulle surf.
    Daarna het ons 'n bier (en ek weer my gunsteling Johannisbeere sap) gaan drink en aandete geëet (alhoewel ek net apfelstrudel met vanilla sous geëet het - die Duitsers se porsies is massief).
    Ons het toe teruggestap deur die park en vir oulaas iets gaan drink by die restaurant waar ons die eerste aand geëet het. Ons het toe gaan slaap, want more moet ons albei vroeg weer vertrek na ons onderskeie plekke.
    Read more