• 'n Dag in Hamburg

    June 21, 2022 in Germany ⋅ ☀️ 19 °C

    Ek het lekker laat geslaap en toe my klere gaan ingee by die droogskoonmakers, waarna ek op die scootertjie ding rondgery het en sightseeing gedoen het tot Neil ook klaar was op die skip. Ons het gaan burgers eet by Dulf's burgers, want as mens in Hamburg is, waar hamburgers vandaan kom, moet 'n mens 'n ordentlike burger eet en Dulf's word oral sterk aanbeveel. Dit was baie lekker. Maar dalk op dieselfde standaard as 'n goeie burger in Suid-Afrika.
    Daarna het ons met die scootertjies gery na Hamburg Dungeons, maar hulle kaartjies was reeds uitverkoop. Ons ry toe hauptbahnhof (sentraal stasie) toe en klim op 'n hop on hop off bus, maar dis 'n blou bus. Ek gaan maar net sê die rooie is die beter keuse. Nietemin het ons baie mooi plekke en ou geboue gesien. Daar is 'n strook langs die riviere wat ongelooflike mooi huise (eintlik mansions) het. Hamburg het omtrent 2500 brûe, die meeste van enige stad in die wêreld. Dis meer as in Londen, Amsterdam en Venisië saam. Dit het ook meer kanale as Amsterdam en Venisië saam. Hamburg is die tweede grootste stad in Duitsland en die derde grootste hawe in Europa. Dit het ook die oudste handelsbank in die wêreld.
    Hier is aansienlik meer bedelaars as in die ander plekke waar ek was, en ek sien ook meer mense wat geïntoksikeerd in die strate loop en hulle baklei en skree soms. Dalk is dit die hawe...?
    Ons gaan drink toe iets by 'n restaurantjie en eet roomys, waarna ek my klere gaan optel en ons toe verder ry na ek eers nóg 'n simkaart moes koop omdat my data op is en ek dit nie kan aanvul in Duitsland nie, siende dat ek 'n Belgiese simkaart het.
    Ons ry toe met die scootertjies tot by die rivier en sit op die wal en drink en bier - ek kan seker nie in Duitsland gewees het en nie minstens een bier gedrink het nie. Ons bel ook vir Ilna, wat bly is dat ek oor die hele see gevlieg het en met Neil kuier. Hulle sien mekaar darem oor so 2 weke. Ons ry toe heen en weer langs die rivier en kyk die huise en gaan eet toe aandete by nog 'n duitse restaurant (en drink vir oulaas nog 'n bier). Daarna gaan stap ons deur Reeperbahn, wat hulle rooiligdistrik is, maar ook waar die klubs is. Daar kom toe 'n hele optog van voor af (ons weet nou nog nie waaroor dit gegaan het nie) en die sekuriteit stoot net almal uit die pad uit voor die optog uit. Weird plek dié. Daar is ook 'n straat waar net mans mag deurstap. Dit is toegemaak en daar staan sekuriteit voor die ingange.
    Ons gaan toe terug hawe se kant toe en loop met 'n tonnel onderdeur die rivier en gaan sit in 'n parkie en kyk uit oor die stad se liggies en gesels tot 00:30. Ek ry toe huis toe met die scootertjie en kry 'n vroeë treinkaartjie Brussels toe vir 04:11, so ek stort en pak toe en sit nou op die stasie en wag vir my trein.
    Almal praat net Duits hier en alles is net Duits, en soos Mandie sê, toe ek vra wat is Duitsland se tweede taal, dis ook Duits.
    Read more