Satellite
Show on map
  • Day 9

    Noordpool en Chena hot springs

    January 4, 2023 in the United States ⋅ 🌙 -15 °C

    Ons het vanoggend bietjie laat wakker geskrik. Dit word eers omtrent 10:00 lig hier. Ons het klaargemaak en die Turo kar by die lughawe gaan haal. Dis 'n Jeep, maar mens moet karre hier inplug om die olie en goed warm te hou sodat dit nie vries nie. By baie plekke het hulle muurproppe buite en die kar het 'n plug wat aan die voorkant uitsteek, wat mens dan met 'n verlengingskoord inprop terwyl die kar afgeskakel is, veral as dit oornag is. Of mens kan dit so 2 ure voor mens ry inprop.
    Van die lughawe af ry ons Noordpool toe en ry bietjie deur die dorp tot ons by Santa Clause house uitkom. Daar het ons bietjie rondgeloop en warm 'cocoa' gedrink en 'n koekie geëet.
    Ons ry toe om 'n plek te probeer kry om te snowmobile, maar dis toe. Oe, ek het ook 'n paar keer bietjie gegly op die ys, maar die Lyft bestuurder wat ons lughawe toe gevat het, het gesê mens moet net nie rem trap dan nie. So ek het nie.
    Terug in Fairbanks gaan ons na die inligtingsentrum. Dis baie indrukwekkend. Ek en ouma was ook laas daar. Daar is klomp vertrekke met uitbeelding van hoe lewe lyk, beide in die natuur en vir mense, in elke seisoen in Alaska.
    'n Gawe werker help ons toe om die goed te beplan en bespreek wat ons graag nog wil doen. Ons gaan kry toe ons swemklere en ry Chena hot springs toe. Dis bietjie meer as 'n uur se ry. By Chena het ons 'n 19:00 bespreking gehad om na die ysmuseum te gaan. Dit is 'n groot gebou waar alles binne van ys gemaak is. Daar is ook 4 kamers waar mens kan slaap vir 'n aand, teen 'n minimale fooitjie van $600. Daar het ook al 'n paar paartjies getrou in die 'chapel'. Die oudste ysbeeld is daar van 2005 af en het 300 ure geneem om te voltooi. Dis 2 perde en ruiters. Mens kan in die een perd 'n vertikale lyn sien deur sy nek waar sy kop beskadig was en moes oorgedoen word en weer aangesmelt is. Daar is ook horisontale lyne deur waar die groot ysblokke aan mekaar gesmelt is om die beeld te vorm.
    Ons het na die tyd elkeen 'n appletini in 'n ysglas gekry. Hulle moet elke dag omtrent 100 glase maak om genoeg te hê. Mens moet dan 'n wens maak na die tyd en die glas stukkend gooi.
    Daarna het ons in die warmwaterbronne gaan swem. Dis lekker warm, maar alles om dit is vol sneeu.
    Ons het toe gery na Aurora Pointe, waar ons tot 02:00 gewag het om die Aurora te sien, maar daar was ongelukkig heeltyd wolke so ons het niks gesien nie. Daar is gewoonlik nie wolke nie, want as dit koud genoeg is vries al die vog in die lug, maar na die sneeustorms het daar glo 'n windtonnel gevorm en nou is dit al vir 'n week 'warm' - ek sit dit in aanhalingstekens (ja, ek kan nie die regte naam vir daai tekentjies onthou nie, ek weet aanhalingstekens is dubbel en ek kon seker regte aanhalingstekens gebruik het om dit makliker te maak, maar ek het nou klaar al hierdie getik) want die temperature is tussen -15 en -19. Jip daai tekentjies is reg. Dis minus. En dis Celsius.
    Read more