• WegTydskrif
  • WegTydskrif

Weg Agterpaaie Vrystaat

In die vierde reeks van Weg Agterpaaie ry joernaliste Sophia van Taak en Toast Coetzer deur die Vrystaat. Baca lagi
  • Permulaan perjalanan
    30 September 2018
  • Dag 2 - N1 na Kroonstad en Gariep

    1 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ ⛅ 26 °C

    Douvoordag uit Johannesburg, N1 suid, tolhekke, en dan afdraai in Kroonstad om by Jukskeipark iets van dié sportsoort te leer (jy kort "balans, ritme en momentum"...) by van die land se top meestersspelers. Dan verder suid met die N1 (deur 'n los bui reën suid van Springfontein) tot in Gariep waar ons agterpaaie-draaie in erns begin. Vanaand slaap ons by die mooie De Stijl-hotel in Gariep. Daai uitsig!Baca lagi

  • Dag 3 - Gariepdam

    2 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ ⛅ 17 °C

    'n Damtoer by Gariepdam is een van dié doendinge hier rond: jy stap met trappe en gangetjies langs tot in die maag van die damwal. Ons was gelukkig: Waterwese se Joseph Alexander het 'n sliksluis vir ons oopgetrek! Later het ons ook by 'n blokhuis (wat omskep is in 'n woonhuis) en konsentrasiekampkerkhof naby Norvalspont gaan draai. Ons dag eindig - hoekom nie? - in 'n leë dorpswembad...

    Oornagplek: De Stijl-hotel
    Baca lagi

  • Dag 6 - Merinoskape en okkerneute

    5 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ 🌙 12 °C

    Weg Agterpaaie Vrystaat is steeds in die Smithfield-distrik vanoggend. Ons kuier op Heuningkrans by Lizette en Eddie Prinsloo en gesels Merinoskape en grondkwessies. Dan ry ons tot naby Aliwal-Noord waar ons by Lukas van Zyl en sy kollegas op Rotondo-okkerneutplaas leer hoe jy bome ent en snoeitoring ry.

    Oornagplek: Letsatsi Private Game Lodge
    Baca lagi

  • Dag 10 - Orrel, sosaties en skaaphonde

    9 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ 🌙 27 °C

    Philippolis se NG-kerk het 'n orrel wat jou asem wegslaan - en orrelis Nicolene Gibbons speel hom vir ons dat die vensters ratel. Daarna help ons sosaties inryg by die skougronde (voorbereiding vir die komende Saalperdskou) en dan wys DG Snyman van die plaas Leliefontein hoe sy getroue skaaphonde skaap werk. En ons drink weer Oros!

    Oornagplek: Die Groenhuis, Philippolis
    Baca lagi

  • Dag 11 - Na Luckhoff en Jacobsdal

    10 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ ⛅ 26 °C

    Vandag vat ons 'n laaitie skool toe in Philippolis. Dan koop ons wors en braai dit op Driefontein, plaas van Van Zyl Schoeman. Hy is nie tuis nie, maar dis OK (hy't gesê ons kan). Ons drink weer Oros. Ons ry die agterste van alle agterpaaie. Sophia maak 10 hekke oop. In Luckhoff koop ons roomys. Ons kyk windpomp. Laatmiddag is ons by Siloam Lodge buite Jacobsdal - en ons braai weer!

    Oornagplek: Siloam Lodge, Jacobsdal.
    Baca lagi

  • Dag 12 - Jacobsdal

    11 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ 🌙 27 °C

    Jacobsdal se landbouskool, Landboudal, is ons gasheer vanoggend. Toast en Sophia leer skyfskiet by van die skool se topskuts, kyk waaroor "kanaalry" gaan en bewonder die manne van die toutrekspan. Vir middagete is ons by Môredou-padstal waar Odri Holtzhausen en haar baksters ons leer pasteie maak!

    Oornagplek: Du-Villa B&B
    Baca lagi

  • Dag 14 - Paardeberg

    13 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ ⛅ 12 °C

    Dis tyd vir bietjie geskiedenis vandag. Ons ontmoet vir Johan Hattingh by die Anglo-Boere-oorlogslagveld Paardeberg tussen Jacobsdal en Boshoff. Hy vertel ons hoe dinge in Februarie 1900 hier ontvou het. Ons ontmoet ook die vriendelike mense van Bloem se Land Rover-klub, en ry daarna in koel reënweer na Florisbad.

    Oornagplek: Florisbad-oord
    Baca lagi

  • Dag 15 - Soutpan

    14 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ 🌧 18 °C

    Dis Sondag by Soutpan - wáár?? Toemaar, ons het ook nie voor vandag veel geweet van dié "geheime" Vrystaatse dorpie nie. By die Truksvy-padstal word ons onthaal op beesstertbredie, hoenderpastei, stampmielies, groenbone, pampoen en malvapoeding. Na 'n trekkertoer deur die dorp besoek ons ook 'n soutplasie. Dankie, julle!

    Oornagplek: Florisbad-oord
    Baca lagi

  • Dag 16 - Florisbad

    15 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ 🌙 16 °C

    Daryl Codron van die Nasionale Museum in Bloemfontein neem ons deur die Florisbad-opgrawingsterrein waar ons o.a. die beendere van reusebuffels sien - hulle horings was 4 m wyd! Ons sien ook die oorspronklike fontein waar warm water vandag nog uitborrel. Daarna ry ons oor Bultfontein na Hoopstad.

    Oornagplek: ClearWater Guest Farm
    Baca lagi

  • Dag 19 - Parys

    18 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ 🌙 15 °C

    Vandag ry ons van die Viljoenskroon-distrik deur die Vredefort-koepel na Parys. Naby Skandinawiëdrif proe ons likeure (gemaak met alkohol gestook van heuning) by Hanzet. Die middag eindig langs die Vaalrivier waar ons geelvis vang.

    Oornagplek: Pluvio-gastehuis, Parys
    Baca lagi

  • Dag 20 - Parys

    19 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ 🌙 20 °C

    Vandag besoek ons die inspirerende span van Parys River Clay Bracelets waar epilepsie-lyers en enkelmoeders van die plaaslike gemeenskap pragtige kraletjie-armbande maak wat op die oorsese toeristemark verkoop word. Ons sluit die episode af by Parys se geskiedkundige hangbrug waar verliefdes hulle slotjies kom hang.

    Oornagplek: Pluvio-gastehuis, Parys
    Baca lagi

  • Dag 22 - Rusdag in Lindley

    21 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ 🌬 14 °C

    Om nege-uur vanoggend lui die NG-kerk se klok, regoor die hotel waar ons tuisgaan. Vandag rus die Weg Agterpaaie Vrystaat-span, maar daar is tyd om die dorp (en die begraafplaas) te voet te verken. Tussendeur eet ons (weer) lekker - voorgereg vir middagete was skaapstertjies, en vroeër vanaand het ons wors gebraai.

    Oornagplek: Lindley-hotel
    Baca lagi

  • Dag 23 - Lindley

    22 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ ⛅ 9 °C

    By die Lindley-meule skakel oom Hekkie van Rensburg sy getroue Ruston & Hornsby-enjin vir ons aan, en hy wys hoe hulle al vir meer as 50 jaar mieliemeel maal. Paul Fouché van Lindley Motors versamel skaars Ford-modelle - ons ry saam met hom in sy 1966 Ford Cortina Mk 1 GT. Bradley Gibbons van die Endangered Wildlife Trust neem ons later die veld in, waar ons ouvolk soek (en kry). Net na sononder ry ons na Clarens.

    Oornagplek: Mt Horeb Manor, Clarens
    Baca lagi

  • Dag 25 - Clarens

    24 Oktober 2018, Afrika Selatan ⋅ 🌙 20 °C

    Ons kyk hoe kaas gemaak word by Noah's Cheeses net buite Clarens, en probeer dan tevergeefs om by Highland Coffee te leer hoe om 'n "prentjie" in die melkskuim van 'n cupaccino te maak. (Ons drink eerder net nog koffie...) Ons leer ook iets oor Basothokomberse en waarom hulle so belangrike rol in die Sotho-kultuur vervul. Dan verlaat ons Clarens en ry oor Fouriesburg na die gasteplaas Moolmanshoek.

    Oornagplek: Moolmanshoek
    Baca lagi