- Show trip
- Add to bucket listRemove from bucket list
- Share
- May 2, 2025, 10:31 PM
- 🌙 11 °C
- Altitude: 16 m
NetherlandsAppelscha52°57’1” N 6°18’41” E
Appelscha

Vandag is my eerste en seker enigste verjaardag in die lente! Ek kry vroeg al boodskappe van familie en vriende en probeer daarop antwoord voor ek regtig opstaan. Ek voel sommer baie geliefd op hierdie spesiale dag!
Truda gee my 'n keuse tussen stad of natuur om te ontdek vir die dag. Ons het die vorige dag vir Groningen mis gery en gedink ons sal nog weer soontoe kan gaan. Ek kies egter om eerder in 'n woud naby ons B&B te gaan stap. Die besoekersentrum van die Drents-Friese Wold is net so 1.5 km weg. Hulle maak eers 10:00 oop, so ons doen allerhande admin takies totdat dit tyd is om te gaan. Eintlik kan 'n mense enige tyd gaan stap, maar dit het ons nie besef nie. Mens hoef nie aan te meld by die besoekersentrum nie endit is gratis om te gaan stap.
Daar is alreeds mense wat klaar gedraf het of besig is om hul fietse weer op te laai agterop hul motors toe ons daar aankom. Ons kry 'n kaart (map) van die area en val in die pad op 'n 5 km roete (wit roete) met 'n klein detour in die langer roete (rooi roete) in. Aan die begin is die paadjie sement, maar later raak dit 'n bospaadjie. Daar is baie mense in die beskermde gebied. Party kom speel met hul kinders in die speelpark waar die foefieslide die grootste aantrekkingskrag is. Party kom om rustig te fiets in die bos nog ander kom om ernstig te oefen op hul fietse. Sommiges wandel soos ons, ander draf en ander stap nog stadiger as ons. Daar is allerhande groeperinge van mense wat meedoen: ou(er) couples, jong couples, jong gesinne, vriende en 'n groot familiegroep wat kom piekniek maak het.
Ons stop kort-kort om foto's te neem en soms 'n biologieles te kry en probeer nou nie om my Parkrun se PB te verbeter nie! Die vrou by die besoekersentrum het ons gewaarsku dat daar waar ons die detour wil neem nie regtig aanwysings is om weer terug te kom op die wit roete nie. Ons het kort voor die einde eers weer aanwysings vir die wit roete gekry!
Daar is duisende paadjies wat die area deurkruis en daar is tientalle verskillende roetes wat elkeen met sy eie logo aangedui word. Dikwels is die mannetjie op 'n rooi agtergrond, wat ons roeteaanwyser is, nie een van die 7 wat by 'n kruising is nie! Ons het meestal maar op "gutfeel" en hoe ons die kaart interpreteer, gestap en gehoop vir die beste. Gelukkig was dit goed genoeg en het ons sonder probleme weer ons motor uit die regte rigting benader.
Op die roete het dit 'n slag begin reën en alhoewel ons meestal ons reënbaadjies by ons het, het ons dit nie vandag gehad nie. Ons skuil toe maar onder 'n groot boom, saam met nog stappers en fietsryers wat ook vir hulle bome uitgesoek het en na paar minute is die bui verby en kan ons droog verder stap.
Ons kry later 'n klompie perde agter 'n bos by 'n dam. Dit is wilde Exmoor ponies wat blykbaar oorspronklik van Engeland af kom. 'n Kenmerk van hulle is die wit rondom hulle neuse. Ek het dit gesien en gedog hulle het halsbande aan om gemonitor te word.
By die dam kry ons toe ook 3 drawwers wat ons voorheen verbygesteek het. Hulle het 'n vinnige swempie, met klere, skoene en al, gevang.
Ons gesels so bietjie toe sê die een vrou haar vriend het laas maand aan die Two Oceans ultramarathon in Kaapstad deelgeneem. Ter herdenking daaraan het hy vir hom 'n tatoeërmerk op sy arm laat aanbring. Die man in hulle groep berei voor vir 'n wedloop oor 100 km in Oktober. Hulle doel is om vandag 25 km te draf.
In totaal het ons so amper 7 km gestap. Sonder my Nordic Walking stokke is dit nogals nie te versmaaie vir my nie!
Dit is immers my verjaardag, so ons gaan eet by die restaurant by die besoekersentrum. 'n Eenvoudige ete, maar met verjaardagkoek. Truda eet appeltert met room en ek kaaskoek met 'n stroopwafel topping. Ek sê nie sommer iets is te soet nie, maar was dankbaar vir die room wat die soetheid van die tert bietjie afgewater het! Baie lekker!
Ons gaan terug "huis" toe om bietjie te ontspan voor ons dalk nog 'n rigting inslaan. Op die ou einde het ons so lekker in die sonnetjie gesit en joernaal skryf en koffie drink en vakansie hou dat ons net daar gebly het.
Daar was ook nog verjaardagboodskappe om te antwoord en oproepe (dankie Whatsapp) wat die tyd gevul het om die dag nog meer spesiaal te maak!Read more
Traveler So bly oor jou onvergeetlike spesiale lente- verjaardag saam met Truda🍰☕🌿🌲🌳!
Traveler 🤩🫶😘
Traveler
😊