- Visa resan
- Lägg till bucket listanTa bort från bucket listan
- Dela
- 7 aug. 2023
- ☁️ 27 °C
- Höjd över havet: 1 560 m
- RwandaKigali ProvinceKiyovuKigali1°57’3” S 30°3’41” E
Kigali en Genocide Museum
7 augusti 2023, Rwanda ⋅ ☁️ 27 °C
Ek het vroegoggend Overschot toe gery en 'n vinnige brunch op die plaas gaan eet (hulle het soveel moeite gedoen) en Pretoria toe gery na ek vinnig 'n draai gemaak het by pa-hulle.
In Pretoria het ek saam die susters en Damian en Wicus aandete geëet, waarba Pikkie-hulle my gaan aflaai het by die lughawe. Hermien het 00:00 daar aangekom - siek. Gelukkig is my kuggie aan sy einde.
Als in die lughawe is toe, en stil (dus het als vinnig gegaan), so ons het in die lounge gaan sit vir 'n uur en 'n half tot ons op die vliegtuig moes klim. Ons albei is baie moeg, want ons het nog niks geslaap nie en dis amper half 4, en daar lê nog 'n hele dag voor. Ons slaap amper die hele 4 ure van die vlug. Niks loadshedding vir die volgende 10 dae nie (mens sien duidelik die loadshedding as jy oor Johannesburg vlieg).
In Kigali gaan alles baie vinnig by doane, daar is geen rye nie en ons het nie visa nodig nie. Hermien se tas moet wel deursoek word want hy het 'n geel merkertjie aangekry. Dit verloop darem ook glad. Ons gaan trek toe geld by die ATM net buite die lughawe, maar het geen idee wat die waarde van Rwandese frank is nie, so trek toe omtrent net R1000 elk. Die wifi by die lughawe werk nie lekker nie, so ons gaan probeer toe by die taxi en simkaart mense wat buite die lughawe se deur staan die geld uitfigure. PS ons weet nou wat dit is, maar die wiskunde sukkel maar so af en toe. Basies deel mens die bedrag net deur 50 (eenvoudig genoeg, maar ons vakansie breins is stukkend).
Ons koop simkaarte ( R120 vir 12GB data en 100 minute) en gaan drink koffie by die koffiewinkeltjie by die lughawe (ja, ek het, want mens moet glo koffie drink in Rwanda... dis waar koffie vandaan kom - sterkte Hermien). Ons kry toe 'n taxi na ons gastehuis - Step Town. Als is so skoon. Daar lê nêrens papiere of enigiets rond nie en oral langs die pad sien mens mense skoonmaak. Oral ry rooi motorfietsies, amper soos in Bali. Daar is meestal iemand met 'n rooi helmet agterop - dis hulle manier van vervoer, so basies amper soos 'n taxi. Hier volg hulle nul padreëls. Almal ry maar net. Regs, links, voor jou in, agter jou verby. Dit gaan maar so. Niemand is aggressief nie.
Die kar is eers vir more bespreek en die ou van die kar sê daar is nie 'n kar vandag beskikbaar nie. Die gastehuis sê ons kan 10uur incheck so ons eet sommer gou ontbyt by die restaurantjie terwyl ons wag. Daarna gaan pak ons ons goed in die kamer uit em stort gou. Die volgende oomblik kry Hermien 'n boodskap dat die ou die kar gebring het en by die gastehuis is, wat fantasties is, want toe kan ons baie meer doen met ons dag.
Hermien sê ook ek moet sê dat ek my kamerasak met al my kaarte, kontant en paspoort by die ontbyttafel vergeet het.
Ons het eerste na die Genocide museum gegaan. Dis hartverskeurend. Mens kan nie indink waardeur mense gegaan het nie. Gesinne is voor mekaar doodgemaak en kinders het weggehardloop en probeer wegkruipplek soek om nie doodgemaak te word nie. Die mense wat oorleef het is nog jonk, want dit was in 1994. Daar is nou vrede in die land, maar ek weet nie hoe al die mense werklik almal vergewe het nie. Ons moes ook eers in die een area wag want daar was 'n staatsbesoek waarvoor ons moes wag voor ons weer kon gaan. Oppad na die kar neem ek 'n foto van die ambulans. Die polisieman kom toe aangestap en vra of ek hom afgeneem het, want ek mag nie. Gelukkig was hy vriendelik toe ek wys ek het nie.
Van daar af was ons Kimironko markie toe. Dis mal besig met baie materiaal en souvenirs en groente en vrugte en mense en koffie en baie, baie goed. Hermien wou eers nie daar stop nie, want sy het gesê dis nie veilig nie. Ek sê toe sy kan in die kar wag tot ek klaar is, maar gelukkig kry ons toe 'n parkeerplek wat veiliger lyk en Hermien is saam in. Sjoe! Hulle vat mens oral en roep jou heeltyd om na hulle goed te kom kyk om dit te probeer smous aan jou. Soos dit mos maar by 'n markie gaan. Ons kry toe 'n vriend wat oral saamloop en ons nie wil uitlos nie, en hy ruik of sy alkoholvlak dalk effens noord is van wat dit behoort te wees. By die een vrugtestalletjie is die man so gretig om ons als te laat proe, hy sny dit en gee dat ons proe. Hermien wil haar doodlag, want ek gril vir als wat vuil is en sê ek gaan nie vleis eet nie, want ek dink nie dis higiënies nie, maar ek eet die vrugte waarmee hy met sy hande gevat het. Oh well, mind over matter. Ons koop vars soettamaties, grenadellas, 'n avo en tangerines. Toe ons 'vriend' weer probeer inmeng, na hulle hom 'n paar keer gewaarsku het, trek hy skielik oor 'n hele mandjie tamaties en almal storm na hom toe. Ek en Mien sien toe ons uitkomkans van hom af en loop weg.
Ons ry toe rond en verken bietjie van die stad. Daar is redelik teerpad, maar baie grondpad en die heuwels (Rwanda is 'land of a thousand hills') is baie steil. Ons kom uiteindelik by die nuwer deel en sien hoe mooi dit herbou is, maar meeste van die stad is nog grondpaaie en ou geboue. Dis wel 'n baie mooi stad.
Vir aandete gaan ons na republounge en eet die lekkerste kos. Bief en hoender karanga (die hoender s'n het chilli en heuning gehad), die lekkerste chips, groenbootjies en Peas Tonze.
Ons is pootuit en kom huis toe om te slaap. More moet ons Nyungwe woud toe ry.Läs mer
Resenär Klink na nog n interessante avontuur! Geniet dit en maak baie memories!
Resenär Hehe ...klink my ...pure...Afrika...stel ni teleur ni...😜