Europa 2022

June 2022
A 15-day adventure by Marise Read more
  • 15footprints
  • 4countries
  • 15days
  • 142photos
  • 0videos
  • 8.0kkilometers
  • 5.6kkilometers
  • Day 11

    Frankfurt, oppad na Hamburg

    June 20, 2022 in Germany ⋅ 🌧 18 °C

    Ek het vroegoggend treinstasie toe gegaan en met die sneltrein gery Frankfurt toe, waar ek die trein na Mandie-hulle gevat het. Sy het my op die stasie gekry en ons het na hulle huis gestap wat letterlik 3 minute van die stasie af is. Ons het toe eers 'n rukkie gekuier tot haar kinders van die skool af gekom het en toe het ons gery na Seligenstadt, 'n ou (een van die oudste) klein dorpie langs die Main rivier.
    Daar is die mooiste ou huisies wat van die 1700's af kom en heel skeef is, maar staan en in stand gehou word. Die klooster het 'n pragtige tuin en plek-plek langs die pad is sulke koper plaatjies met die name van die jode wat in die huise gebly het. Ons eet lekker pastries en ry toe aan na Aschaffenburg, ook op die Main rivier, waar ons na Schloss Johannisburg gaan. Dis basies 'n paleis/kasteel, wat in die 2de wêreldoorlog amper vernietig is, en later herbou is.
    Ons het deur die ou deel van die dorp gestap en toe teruggegaan huis toe sodat ek betyds (amper nie) kan wees vir my trein terug Frankfurt stasie toe sodat ek op die sneltrein Hamburg toe kan klim (wat ook laat was).
    Die autobahn werk lekker, maar basies soos die regterkantste baan in Gauteng. Ry vinnig en gee pad as iemand vinniger as jy ry. Daar is net nie 'n spoedbeperking nie. Ook, as al die bane staan beweeg al die karre outomaties uit die middelste baan sodat dit oopgehou kan word indien noodvoertuie moet deur beweeg. O en mens word beboet vir enige iets wat jy verkeerd doen. Baie beboet. So almal luister. Hulle werk ook op 'n vertroue sisteem. Dis selde dat hulle op die treine kyk of mens kaartjies het, maar as jy nie het nie en hulle vang jou word jy beboet. Gelukkig kry mens van Junie tot Augustus 'n 9 Euro kaartjie wat 'n maand lank hou vir alle publieke vervoer, behalwe langafstand treine.
    Kinders stap van 6 jaar af self skool toe. Hulle word geleer. Die roete skool toe is verseker deur die skool en as iets gebeur op die roete is die skool verantwoordelik vir die kostes.
    Read more

  • Day 12

    'n Dag in Hamburg

    June 21, 2022 in Germany ⋅ ☀️ 19 °C

    Ek het lekker laat geslaap en toe my klere gaan ingee by die droogskoonmakers, waarna ek op die scootertjie ding rondgery het en sightseeing gedoen het tot Neil ook klaar was op die skip. Ons het gaan burgers eet by Dulf's burgers, want as mens in Hamburg is, waar hamburgers vandaan kom, moet 'n mens 'n ordentlike burger eet en Dulf's word oral sterk aanbeveel. Dit was baie lekker. Maar dalk op dieselfde standaard as 'n goeie burger in Suid-Afrika.
    Daarna het ons met die scootertjies gery na Hamburg Dungeons, maar hulle kaartjies was reeds uitverkoop. Ons ry toe hauptbahnhof (sentraal stasie) toe en klim op 'n hop on hop off bus, maar dis 'n blou bus. Ek gaan maar net sê die rooie is die beter keuse. Nietemin het ons baie mooi plekke en ou geboue gesien. Daar is 'n strook langs die riviere wat ongelooflike mooi huise (eintlik mansions) het. Hamburg het omtrent 2500 brûe, die meeste van enige stad in die wêreld. Dis meer as in Londen, Amsterdam en Venisië saam. Dit het ook meer kanale as Amsterdam en Venisië saam. Hamburg is die tweede grootste stad in Duitsland en die derde grootste hawe in Europa. Dit het ook die oudste handelsbank in die wêreld.
    Hier is aansienlik meer bedelaars as in die ander plekke waar ek was, en ek sien ook meer mense wat geïntoksikeerd in die strate loop en hulle baklei en skree soms. Dalk is dit die hawe...?
    Ons gaan drink toe iets by 'n restaurantjie en eet roomys, waarna ek my klere gaan optel en ons toe verder ry na ek eers nóg 'n simkaart moes koop omdat my data op is en ek dit nie kan aanvul in Duitsland nie, siende dat ek 'n Belgiese simkaart het.
    Ons ry toe met die scootertjies tot by die rivier en sit op die wal en drink en bier - ek kan seker nie in Duitsland gewees het en nie minstens een bier gedrink het nie. Ons bel ook vir Ilna, wat bly is dat ek oor die hele see gevlieg het en met Neil kuier. Hulle sien mekaar darem oor so 2 weke. Ons ry toe heen en weer langs die rivier en kyk die huise en gaan eet toe aandete by nog 'n duitse restaurant (en drink vir oulaas nog 'n bier). Daarna gaan stap ons deur Reeperbahn, wat hulle rooiligdistrik is, maar ook waar die klubs is. Daar kom toe 'n hele optog van voor af (ons weet nou nog nie waaroor dit gegaan het nie) en die sekuriteit stoot net almal uit die pad uit voor die optog uit. Weird plek dié. Daar is ook 'n straat waar net mans mag deurstap. Dit is toegemaak en daar staan sekuriteit voor die ingange.
    Ons gaan toe terug hawe se kant toe en loop met 'n tonnel onderdeur die rivier en gaan sit in 'n parkie en kyk uit oor die stad se liggies en gesels tot 00:30. Ek ry toe huis toe met die scootertjie en kry 'n vroeë treinkaartjie Brussels toe vir 04:11, so ek stort en pak toe en sit nou op die stasie en wag vir my trein.
    Almal praat net Duits hier en alles is net Duits, en soos Mandie sê, toe ek vra wat is Duitsland se tweede taal, dis ook Duits.
    Read more

  • Day 13

    Terug in Brussels

    June 22, 2022 in Belgium ⋅ ⛅ 24 °C

    Ek het net na 04:00 op die trein geklim. Daar is 'n hele paar dronk mense op die trein daai tyd van die oggend.
    In Brussels het ek my tas in 'n locker gaan bêre op die treinstasie en gaan rondloop in Brussels en geskenkies, ens. gaan koop.
    Ek het ook 'n Neuhaus roomys geëet, wat hulle maak volgens jou spesifikasies. Neuhaus is nog steeds my gunsteling sjokolade.
    Daarna het ek 'n scootertjie/step gevat en Atomium toe gery, waar mens met 'n hyser opgaan tot heel bo, met 'n 360° uitsig van Brussels en ook van Miniature Europe. Daarna loop jy deur 'n uitstalling wat die geskiedenis van die Atomium vertel - dis basies gemaak as 'n simbool van wêreld vrede en dat almal aan mekaar 'connect' is - ek kan nie nou dink wat die regte Afrikaanse woord is nie. Mens gaan verder op met die roltrappe waar daar 'n skouspel van ligte is. Die volgende area is 'n uitstelling van View from my window, wat in lockdown begin is, om mense ook aan mekaar te 'connect'. Dis baie interessant, al die foto's.
    Daarna het ek nog 'n rukkie rondgestap en toe huis toe gegaan.
    Read more

  • Day 14

    Ghent

    June 23, 2022 in Belgium ⋅ ☀️ 27 °C

    Ek en Liehet het vir oulaas bietjie gaan ontbyt by 'n oulike koffiewinkel naby hulle huis. Laudo is skool toe. Daarna het ons na die bakkery gegaan. Hier koop mens brood by die bakkery en vleis by die slagter, ens. Sy het my toe na hulle gemeenskapspark gevat, waar daar klomp grasperke en bome en 'n dammetjie is, met kinders wat oral speel.
    Ek is toe met die trein Gent toe, waar ek 'n fiets gehuur het en na Gravensteen gegaan het. Dis 'n kasteel waar die graaf van Flanders in die middeleeue gebly het, en het baie goed behoue gebly. Die storie van die graaf en die kasteel word deur 'n oudiomasjientjie vertel soos wat mens aanbeweeg. Hulle was nogal wreed in daai tye met al die torture wat hulle gedoen het. Iemand het selfs erken sy is 'n heks en het die duiwel gesoen omdat hulle haar getorture het.
    Ek het toe in die strate afgeloop en deur graffitistraatje gestap, wat net vol graffiti is. Ek het ook by 'n baie oulike antieke winkeltjie ingestap.
    Ek is toe terug, maar die trein van Antwerp af is gekanselleer so ek moes wag vir die volgende trein, 'n uur later. Die publieke vervoer hierdie twee weke het my glad nie beïndruk nie. Dit was eksponensieël meer laat of gekanselleer as wat dit op tyd was.
    Ek het 'n hawaiian poke bowl gekry vir aandete en toe die laaste trein huis toe gevat, waarop Hendrik ook was, want hy het vir sy werksmense gebraai. Verlede week het dit eers omtrent 22:30 donker geword. Nou is dit al 22:00 donker.
    Read more

  • Day 15

    Laaste dag in Europa

    June 24, 2022 in Belgium ⋅ ☁️ 21 °C

    Vanoggend was dit 'n stryd om alles te pak en in Brussels te kom, betyds vir die sjokolade werkswinkel by Neuhaus, en die trein was alweer laat. Ek het my bagasie in die lockers op die trein stasie gelos en die werkswinkel gaan doen.
    Dit was baie interessant. Sjokolade moet gesmelt word teen omtrent 45°C en dan afgekoel word tot 30-32°C om mee te werk.
    Daarna is ek direk lughawe toe, want hulle staak. Als het darem vlot verloop en ek het vir die doane beampte gesê hulle moet in Suid-Afrika kom leer hoe dit werk as mens staak, want daar is niks wat brand nie. Die vliegtuig is omtrent 'n uur vertraag, maar ek is uiteindelik weer in SA.
    Read more