• WegTydskrif
  • WegTydskrif

Weg Agterpaaie Karoo

Une aventure de 43 jours par WegTydskrif En savoir plus
  • Dag 25 - Murraysburg na Victoria-Wes

    9 février 2017, Afrique du Sud ⋅ ☀️ 17 °C

    Dis 'n vol dag: Toast en Erns (probeer) ski op die gronddam by Badsfontein, dan koop ons roomyse by Kays Kafee in Murraysburg en ry daarvandaan agterpad - verby sewe bergskilpaaie en deur dertig modderplasse - tot in Victoria-Wes. Ons oornag 40 km anderkant die dorp by Melton Wold, waar tafeltennis gespeel word voor aandete (bobotie, hoender, malvapoeding).En savoir plus

  • Dag 26 - Victoria-Wes na Loxton

    10 février 2017, Afrique du Sud ⋅ 🌧 19 °C

    Dis landbouskou in Victoria-Wes, en Toast en Erns kyk bietjie perde en skape (en kry braaivleismiddagete - dankie!), gesels met skoupresident Willem Vorster en leer van "natuurlike maanhaar, en stert" (dis nou wanneer perde nie pruike dra nie). Dan skiet die Weg Agterpaaie-span deur Loxton toe, vir stoepsitstories by oom Ben Bruwer en tannie Nita Griessel, dan koppie toe vir windverwaaide sonsondergang oor die dorp en, uiteindelik, potjiekos en rus by die Rooi Granaat.En savoir plus

  • Dag 33 - Fraserburg na Merweville

    17 février 2017, Afrique du Sud ⋅ ⛅ 18 °C

    Ons begin vroegdag in Fraserburg na 'n goeie nagrus by die Kliphuis. Klippe bly ons tema vir die dag: eers kyk Erns en Toast fossielvoetspore op die plaas Gansfontein, daarna ry die span teen die Oukloofpas af om vir Heuningland se Douwe Vlok en vriende te ontmoet. Ons kou klippe saam met hulle deur bergfiets te gaan ry in die hitte van die dag, maar koel dan af in Grootdroom se swembad voor dit tyd raak vir Merweville toe ry terwyl die sonsondergang mooi maak.En savoir plus

  • Dag 34 - Merweville

    18 février 2017, Afrique du Sud ⋅ ⛅ 18 °C

    Dit was ernstig warm reg deur die nag in Merweville, maar die weer dreun en die eerste druppels plof neer in die kurkdroë, klipharde strate. Erns lewer kruideniersware af (per fiets) vir Belia Muller en tannie Marie Blom en Esther Fourie wys vir Toast en Erns die dorp se imposante klipkerk. Dan ry die Hilux in Sutherland se rigting, op teen die eskarp verby 'n korbeelhuis en weerligblitse - laasgenoemde maak hekoopmaak haastige werk.En savoir plus

  • Dag 36 - Tankwa Karoo

    20 février 2017, Afrique du Sud ⋅ ☀️ 22 °C

    Die Tankwa en sy karakters trek ons op onverklaarbare maniere nader, van Tjol Herbst wat met sy lang baard wag staan by die Verlatekloofpas buite Sutherland tot Jean-Pierre de Villiers, Jaco Uys en Gary Smith van die plaas Stonehenge waar die Afrika Burn-jol jaarliks uitspeel. Sonsondergang is so mooi ons vergeet gans van ons papwiel...En savoir plus

  • Dag 38 - Middelpos na Calvinia

    22 février 2017, Afrique du Sud ⋅ 🌙 13 °C

    Middelpos se bokmelkbokke betower ons, Toast ontmoet ná 7 jaar weer vir tannie Sarie Mattheus, Dana Snyman se Wegbreek-besigheidskaartjie hang nog in plek in Die Winkel en Koos van der Westhuizen vertel ons als te vertelle oor Middelpos. Dan na droë Calvinia, vir skuinskoek bak met tannie Ray Karsten, sonsondergang-oordenking in die pad en vleisfeesvier by Die Hantamhuis. Episode 12 is klaar verfilm; een bly oor.En savoir plus

  • Dag 39 - Calvinia na Papkuilsfontein

    23 février 2017, Afrique du Sud ⋅ 🌙 3 °C

    Die blitsige manne by Calvinia se Supa Quick ruil gou ons band om, dan drink ons koffie, pos poskaarte en gooi tenks vol (toevallig saam met Kimberley-manne met die grootste bostreiler wat ons nog ooit gesien het...). Op pad na Papkuilsfontein stop ons by 'n monument wat die Anglo-Boereoorlog se finale neerlê van wapens (en opneem van die pen) herdenk. By Papkuilsfontein kom kuier die Klipwerforkes by ons - en die dag sluit af met musiek tussen die dassieklippe. Wat meer kan 'n ou vra?En savoir plus

  • Dag 41 - Na Verneukpan

    25 février 2017, Afrique du Sud ⋅ ⛅ 26 °C

    'n Wye draai is ons dag, van Willemsrivier (koel en mistig) na Loeriesfontein (dis droog, so droog) Brandvlei (beste lamsvleisburger by die Windpomprestaurant) na Swartkop (hier het dit onlangs gereën), dan hekoopmaak en Verneukpan lê voor ons oop, onder die voet en in die hart: die regte plek om ons 6-weke en 5000+ km Weg Agterpaaie Karoo-toer tot stilte te roep. Vanaand skiet die sterre vonke, en die braaivuur ook.En savoir plus

  • Dag 42 - Huis toe

    26 février 2017, Afrique du Sud ⋅ 🌙 19 °C

    So eindig dinge. Na 6 weke en 5860 km is die Weg Agterpaaie-span terug in die Kaap. Dis Sondag-oggend wanneer ons wakker word op Verneukpan, 100 km anderkant Brandvlei. Ons maak koffie, en dan verfilm ons die laaste paar tonele, daarna pak ons en draai die twee Toyotas terug Kaap toe.

    Dis tienuur die aand wanneer Toast en Erns hul sakke neergooi in die Weg-kantoor. Kameramanne Chris Kritzinger en Nic Janse van Rensburg vlieg die volgende dag terug Joburg toe. Baie dankie, ouens, dit was pret! Dis danksy Chris en Nic se harde werk dat die nuwe reeks van Weg Agterpaaie so mooi gaan lyk wanneer dit op 15 Maart begin wys op Via. Stel solank jou PVR vir 20:00 daardie Woensdagaand, en vir die 12 Woensdae daarna ook.

    Baie dankie aan die honderde Karoomense wat die afgelope 6 weke so 'n plesier gemaak het. Dankie vir julle gasvryheid, die oopmaak van jul huise en plase, dorpe en plekke: ons waardeer dit. Sien julle weer, iewers langs die pad. Mag die stiltes en ooptes ons almal oorweldig.
    En savoir plus

    Fin du voyage
    26 février 2017