• WegTydskrif
  • WegTydskrif

Weg-fototoer Botswana

En 10-dags äventyr från WegTydskrif Läs mer
  • Resans start
    19 mars 2017

    Dag 1 - Khama Rhino Sanctuary

    19 mars 2017, Botswana ⋅ 🌧 9 °C

    Als is groen hier ná somerreëns soos lanklaas - en wat kán blom, blóm! Ons groep van 25 Weg en Go lesers ontmoet by Khama Rhino Sanctuary naby Serowe, waar ons vanaand kamp. Vir die volgende 9 dae ry ons kloksgewys om die Okavango-delta oor Maun, Tsodilo-heuwels en die Okavango-pypsteel, dan deur die Caprivi na Kasane waarvandaan ons die Victoriawaterval en Chobe- nasionale park besoek. Langs die pad gesels ons fotografie, leer ons kameras beter ken en kry als van sluiterspoed tot komposisie onder die knie. Ons reis saam met Mpafa Travel met toergids Douwe Vlok.Läs mer

  • Dag 2 - Serowe na Maun

    20 mars 2017, Botswana ⋅ ⛅ 23 °C

    Vandag ry ons ver: van Khama Rhino Sanctuary naby Serowe oor Letlhakane, Mopipi en Rakops tot by Drifters Camp kort van Maun. Die groen landskap maak egter op vir die lank sit in die karre. Orals staan panne water, grasvelde wuif asof op die Serengeti en bome blom baldadig. Tydens piekniek-middagete vlieg witrug- en swartaasvoëls laag oor ons (seker lus vir ons toebies...), en die mense se kameras kiek. Sonsondergang is langs die Boteti. Vanaand is lieflik, en vlermuise roep in die bome.Läs mer

  • Dag 3 - Maun

    21 mars 2017, Botswana ⋅ ⛅ 23 °C

    Vir meeste toerlede is vandag 'n groot dag: dis tyd vir 'n vlug oor die Okavango-delta! Ander vat dit rustig by Drifters Camp, of gaan doen inkopies in Maun. Teen laatmiddag is almal weer teen die Boteti vir sonsondergang: ons skiet die wilde waks uit hom uit. Aandete was gebraaide hoender, wortelslaai en broccoli met kaassous - en melktert vir poeding. Die kamp is nou stil, en so drie kameeldorings weg hoor ons witkoluiltjies...Läs mer

  • Dag 4 - Maun na Tsodilo

    22 mars 2017, Botswana ⋅ ☀️ 17 °C

    Ons konvooi ry van Maun na Sehithwa tot by Sepupa Swamp Stop - teen die Okavangorivier - waar ons middagete geniet. Dan vat ons grondpad na die Wêrelderfenisgebied by Tsodilo-heuwels, bekend vir sy rotskuns. Die veld bly oral groen, en om elke draai is die lug vol geel en wit skoenlappers. Sonsondergang is dieporanje teen die koppies se kranse. Laatnag roep die gevlekte-ooruile vir mekaar. Dis als mooi.Läs mer

  • Dag 5 - Tsodilo na Ngepi

    23 mars 2017, Namibia ⋅ ⛅ 21 °C

    Almal is vroeg op en na ontbyt neem gidse Boo Xuma en Thebe Sekora ons rond na Tsodilo se besonderse rotstekeninge. Tussendeur blom die ruie veld in die fynste blommetjies. Dis 'n goeie dag vir makrofoto's. Middagete is terug in die kamp en dan pak ons op en ry na Shakawe, en dan Namibië binne deur Mohembogrenspos. Ngepi Camp op die Okavangorivier is ons basis vir die volgende 3 dae. Ngepi is 'n ou Weg-gunsteling en dit lyk of ons toerlede saamstem. Die seekoeie nurk naby. Alles goed.Läs mer

  • Dag 6 - Mahango-reservaat

    24 mars 2017, Namibia ⋅ ⛅ 26 °C

    Die Mahango-reservaat is een van Namibië se bes-bewaarde geheime. In hierdie klein park sien jy gereeld skaars boksoorte soos swartwitpens, bastergemsbok en rietbok, terwyl olifant en buffel algemeen is. Vandag sien ons baie rooi lechwe, rooibok, vlakvark, kameelperd en sebra ook. Beste van als? Parktoegang is net R30 per persoon. Ons groep besoek die park in die oggend en eet dan bosmiddagete by Kweche-piekniekplek waar toerleier Douwe Vlok 'n praatjie maak oor van die park se mooi inheemse bome.Läs mer

  • Dag 7 - Ngepi

    25 mars 2017, Namibia ⋅ ⛅ 21 °C

    Dis rusdag vandag. Sommige toerlede besoek die Buffalo-sektor van die Bwabwata- nasionale park, ander ry na Popa-valle of nog 'n draai deur Mahango-reservaat. Maar meeste lê laag by Ngepi, en doen dalk 'n voëlkykuitstappie of gaan op 'n mokorovaart. Laatmiddag is dit tyd vir 'n Ngepi-hoogtepunt: die sonsondergangvaart op die Okavangorivier. Ons sien 'n krokodil, blouape, ses seekoeie en twee troppe olifante. Doodstil dryf ons verby dié bosreuse terwyl hulle op die oewer wei. Verlangs is weer aan die lug, maar ons bly droog. Ons vier 'n toerlid se verjaarsdag ná 'n aandete van varknek, braaiaartappels, ertjies, pampoen en courgettes. Dit is nou laataand, 'n jenewer is gedrink en die skopsuiltjies roep.Läs mer

  • Dag 8 - Ngepi na Kasane

    26 mars 2017, Botswana ⋅ ⛅ 19 °C

    Dis 'n dag vol verrassings: ons sien 'n jagluiperd sommer langs die B8-teerpad 'n ent oos van Divundu, en wanneer ons laatmiddag deur die Chobe- nasionale park ry in rigting Kasane, lê vyfstuks leeu doodluiters vir ons en wag langs die teerpad. Tussenin stop ons vir middagete by die vriendelike mense van Caprivi Houseboat Safari Lodge naby Katima Mulilo, waar die Zambesirivier damvol lê - die rivier het in die afgelope week al amper 3 m gestyg! In Kasane is dit Sondag, en die bobbejane strek uit op die dak van Choppies. Ons slaap by Thebe River Safaris, en môre gaan ons Vic Falls toe. Netjies.Läs mer

  • Dag 9 - Victoriawaterval

    27 mars 2017, Zimbabwe ⋅ 🌙 9 °C

    Die rook wat donder! Ja, die Victoriawaterval is ordentlik vol: sy wolk sien jy reeds van ver hang en wanneer jy naby staan is die gedruis oorverdowend. Vandag is ons groep van 25 Weg-lesers in Vic Falls: party doen 'n helikoptervlug, ander stap oor na Zambië en uiteindelik ontmoet almal op die stoep van die Victoria Falls-hotel vir 'n drankie voor ons bussie ons kom oplaai en terugneem na Kasane.Läs mer

  • Dag 10 - Chobe- nasionale park

    28 mars 2017, Botswana ⋅ 🌙 22 °C

    Die laaste dag van Weg se Botswana-fototoer is dalk die lekkerste. Dinge begin douvoordag met 'n wildsrit deur die park - party van ons sien leeus, ander nie, maar dis 'n plesier om die veld so ruig te sien na al die goeie reën. Terug by die kamp eet ons laatontbyt en dan vat ons dit rustig tot die tyd aaanbreek vir ons bootvaart op die rivier. Olifante wat in die water staan en wei, seekoeie wat paar, kameelperde, krokodille, visarende, waterlikkewaan, slang, visvangers - ons sien dit als. Wanneer die son sak raak dit stil op die boot. Ook soos dit hoort. Tot volgende keer.Läs mer

    Resans slut
    28 mars 2017