• WegTydskrif
  • WegTydskrif

Kaokoland

A 18-day adventure by WegTydskrif Read more
  • Trip start
    May 4, 2017
  • Dag 2 - Springbok na Windhoek

    May 5, 2017 in Namibia ⋅ ⛅ 21 °C

    Ons wikkel noord, 950 km ver, tot by Monteiro-kamp buite Windhoek vir die nag. Dagbreek by Noordoewer -grenspos kom met swierige reënboog, maar daarna word dit warm en die wind waai. Toerleier Rey Janse van Rensburg trek die konvooi voor, en Jarra van Jaarsveld dek die agterhoede. Laatmiddag raak die wolke digter - wie weet wat môre gaan bring? En skielik is ons halfpad Kunenerivier toe.Read more

  • Dag 3 - Windhoek na Ruacana

    May 6, 2017 in Angola ⋅ ☀️ 21 °C

    Ons is vroeg op by Monteiro-kamp net suid van Windhoek, maak tenks vol in Windhoek, koop biltong by Jan se Biltongpadstal by Okahandja, koop 'n Namibiese boomboek in Outjo (sodat ons kan ophou stry oor al die mooi bome padlangs), woeker voort met die blokraaie in WegRaai (ons deel leidrade met mekaar oor die karradios) en bereik Ruacana laatmiddag. Die laaste twee karre van ons toergroep wag ons hier in - nou is ons 8 karre en so 20 mense. Vanaand - én môre, én oormôre - slaap ons op die oewer van die Kunenerivier.Read more

  • Dag 4 - Kunenerivier

    May 7, 2017 in Namibia ⋅ ⛅ 32 °C

    Ons is hier, en nou gaan dit rustig. Die werfhaan kraai ons wakker by Omunjandi, daarna is dit koffie en beskuit en stadig oppak. Rey lei ons kort konvooi al langs die rivier af - ons stop om bome en blomme af te neem, talm by voëltjies (hoogtepunt: trekdrawwertjies), soek krokodille (niks), eet middagete onder 'n ana- en hardekoolboom. Boskamp vanaand, met skopsuil en waterdikkop.Read more

  • Dag 5 - Epupawaterval

    May 8, 2017 in Namibia ⋅ ⛅ 19 °C

    Epupawaterval is een van die mooiste plekke in Namibië, en daarom slaap ons twee nagte oor by Epupa Falls Lodge & Campsite. Die valle dreun en die maan skyn deur die makalanipalms. Die pad van Swartbooisdrift na Epupa, wat ons die afgelope twee dae gery het, is in goeie toestand. Hierdie winter gaan jy maklik hier kan ry. Vat jou tyd: die Kunenerivier vra dat jy rustig raak en ordentlik vakansiegees vang.Read more

  • Dag 6 - Epupawaterval

    May 9, 2017 in Namibia ⋅ ⛅ 19 °C

    Vandag ry ons net mooi nêrens heen nie. Na ontbyt stap party na die waterval, ander lees boek in die skaduwee. Rey, Jarra en Enrico maak Gert se Cruiser-deur reg. Teen middagete is Toast agter die braaipan: hamburgers op die spyskaart. Laatmiddag is almal op die koppie, die maan kom op oor die Sebraberg, die Kunene doen toertjies: almal is gelukkig.Read more

  • Dag 7 - Epupa na Otjitanda

    May 10, 2017 in Namibia ⋅ ⛅ 15 °C

    Ons groet die Kunenerivier en ry suid met die C43 tot in Okongwati, waar ons vlugtig stop en die winkeltjie besoek. Dan weldra - stadig, maar seker - weswaarts deur mopanieveld, oor droë (en soms nat) rivierlope, verby Himbakrale en ruwe rotskoppies, enorme anabome en kortstertlaksmanne, 'n Afrikaanse wielewaal, kroonkiewiete en 'n dik-dik. Ons kamp vanaand onder die volmaan, pannekoek vir aandete, die hoop kole gloei nog. Iemand snork.Read more

  • Dag 8 - Otjitanda na Vanzylspas

    May 12, 2017 in Namibia ⋅ ⛅ 31 °C

    Donderdag in Kaokoland en al ry ons nie ver nie is dit steeds 'n vol dag. Die pad raak gou slegter na ontbyt, en ons konvooi se bestuurders kry vroegdag reeds 'n paar 4x4-lesse by toerleier Rey Janse van Rensburg. Ons besoek 'n Himbakraal, tap waterkanne vol in Otjitanda, eet pannekoek-worsrolle vir middagete en Rey help dan om 'n sonpomp reg te maak waar Himbaboere en hul bok, bees, donkie en perd dors by 'n leë watertenk wag. Hierna begin ons Vanzylspas te klim - die klippe, rotsbanke en los gruis bied oorgenoeg uitdaging aan die bestuurders en hul bakkies. Almal maak dit veilig tot by ons kampplek in die berge van Vanzylspas. Môre wag die pas se taaiste deel!Read more

  • Dag 9 - Vanzylspas na Nêrens

    May 12, 2017 in Namibia ⋅ ☀️ 40 °C

    Dit is D-dag, oftewel Vanzylspas-dag, met die ergste deel van die pas - die "Hillary Step" - wat op die bestuurders wag. Rey kry almal in een stuk oor dié struikelblok, en teen middagete is ons onder in die mooie Marienfluss, vanjaar kuithoogte getooi in geel gras tot teen die horison. Rooidrom verby, en daar draai ons rofweg suid, skurwe en woeste wêreld in. Ons kamp weer in die veld, by wat Rey sommer Kamp Nêrens noem. Voor aandete is hy en Jarra eers onder 'n Hilux in wat moeilikheid gee: 'n boereplan word gemaak. Pap en wors vir aandete, dan slaaptyd.Read more

  • Dag 10 - Nêrens na Khumibrivier

    May 13, 2017 in Namibia ⋅ ⛅ 19 °C

    Die konvooi ry kuier-kuier vandag: ons stop by die ou marmermyn by Onjuva, tap water by Orupembe se fontein en koop daarna die Orupembe Shop 1 byna leeg. Na middagete sak ons in die Khumibrivier in, en heelmiddag sien ons wild: sebra, gemsbok, springbok en later kameelperde. Ludwigse poue en Damara/ woestynkorhaan is ook hoogtepunte. Ons stop vlugtig by moontlik die wêreld se mees afgeleë curio-stalletjie. Hiënaspore padlangs en jakkals wat na aandete jou. Nou is dit stil en koel, en die sterre sê "tsau!".Read more

  • Dag 11 - Khumibrivier na Hoanibrivier

    May 14, 2017 in Namibia ⋅ ☀️ 17 °C

    Dis nou ons en die woestyn. Die Khumib is vroegdag goed vir ons: 1 steenbok, 2 rooijakkalse, 4 kameelperde, 6 swartaasvoëls, talle gemsbok - en natuurlik die bome, verwronge stamme van antieke mopanies en hardekole. Dan draai ons uit die rivier, suidwaarts oor die woestyn, wat sag uitrol tot teen die voetheuwels van barre knoetse klip. Gekom by die Hoarusibrivier - waarmee ons beplan om na Puros te ry - is dit nat, nat, nat. Plan B is die Hoanib, so ons ry verder suid oor verdere woestynvlaktes tot waar springbokke en gemsbokke wei op kort groen gras. Om 'n rotshoekie maak ons kamp, weggesteek van als behalwe die sterre.Read more

  • Dag 12 - Hoanibrivier na Khowarib Lodge

    May 15, 2017 in Namibia ⋅ ☀️ 17 °C

    'n Laaste lekker dag in 'n wilde Kaoko-rivierloop: die Hoanibrivier met sy reuse-anabome en kameelperde (die olifante het ons ontwyk) is ons speelplek vandag. Middagete is gisteraand se oorskiet-potjie, en dan bereik ons weer winkels en selfoonsein in Sesfontein. Dan ry ons deur Warmquelle tot by Khowarib Lodge & Campsite - vanaand stort ons vir die eerste keer in vyf dae. En ons braai, sommer groot. Die wind stoot in die slucht af.Read more

  • Dag 13 - Khowarib na Ugabrivier

    May 16, 2017 in Namibia ⋅ ☀️ 17 °C

    Dis 'n langerige rydag vandag, van naby Warmquelle na Palmwag (waar ons ongeskonde deur die veeartsenykontrolebeheerpunt kom). Padlangs sien ons baie springbok en kameelperd, en een mooi troppie bergsebras. Die olifante sien ons tekens van, maar geluk is nie aan ons kant nie. Dan dippie-pad na Khorixas, vir inkopies en vol gooi. Na sowat 1000 km grondpad sien ons weer teer, maar draai gou af op grondpad, Brandberg se rigting, verby donkiekar en klipstal, en maak vir oulaas boskamp in 'n sytak van die Ugabrivier. Die son sak oor Brandberg, oereier in hierdie hengse aardse braaipan. Die nag is stil en perfek en sterbesaai.Read more

  • Dag 14 - Henties en Swakop

    May 17, 2017 in Namibia ⋅ 🌙 16 °C

    Vandag ry ons see toe, en die koeligheid van die mis by Hentiesbaai laat dit voel na 'n oase na dae se reis deur dorre streke. Ons eet vis en chips langs die strand, en ry dan rustig deur na Swakopmund waar ons tent opslaan by Myl 4. Vir aandete sak ons toe op die gewilde Kücki's Pub, waar die steaks, eisbeins en schnitzels met reëlmaat voor ons opdaag. Nou word daar gepraat van middernag haal...Read more

  • Dag 15 - Swakop na Sesriem

    May 18, 2017 in Namibia ⋅ ☀️ 15 °C

    One groet die see en vat die woestynpad in die rigting van Sesriem. Iewers in die middel van nêrens ontdek Rey dat iets aan sy sleepwa gebreek het: middagete word vroeg geroep en terwyl ons eet in die skadu van 'n kameeldoring pak Rey, Jarra en Enrico die probleem. Brackets word prakseer, die grinder en boor kom uit, die "Glory Box" (die houtboks waarin Rey allerhande spare parts saamry) word geplunder vir gepaste moere en 'n uur en 'n half later is die wa weer padwaardig. Die woestyn het reën gehad, en dit lê met 'n ligte baadjie groen om ons anderkant Kuisebpas. Honderde sebras wei in die verte, gemsbok en volstruis ook. Na 'n kort strudelstop by Solitaire druk ons deur na ons kampplek by Sesriem, Sossus Oasis. Môre ry ons vlei toe...Read more

  • Dag 16 - Sesriem en Sossusvlei

    May 19, 2017 in Namibia ⋅ ⛅ 24 °C

    Die woestyn roep vandag en teen 7.30 vm. Namibiese tyd staan ons saam met 30 ander karre en wag vir die parkhekke om oop te gaan. Ons ry verby Duin 45, en mik reguit vir Sossusvlei, waar ons parkeer en begin stap na Dooievlei. Toast en toerlid Jaco Peens klim die massiewe Big Daddy-duin uit - harde werk, maar die uitsig maak dit die moeite werd! Die weer speel saam en dit raak eers teen 12-uur se kant warm. Hierna ry ons terug na ons staanplek by Sossus Oasis - party dut, ander swem. Laatmiddag draai ons in die dieptes van Sesriem-canyon terwyl Rey, Jarra en Pikkie aandete maak: hoenderschnitzel met sampioensous, aartappelslaai én apfelstrudel a la Pikkie. 'n Jakkals sluip hier buite rond, 'n blafgeitjie blaf. 'n Goeie, goeie dag.Read more

  • Dag 17 - Sesriem na Helmeringhausen

    May 20, 2017 in Namibia ⋅ ☀️ 22 °C

    Daar is tyd vandag vir álles: sebras en gemsbokke afneem in Namibrand, kyk hoe die jong breëkoparend lomp wegvlieg by Wêreldend, loer na die skadu van 'n swartaasvoël wat so groot soos 'n Cessna oor die pad gly, Oom Jan se (derde) papwiel laat regmaak op Betta, tegelykertyd die koffiewinkel daar se melktert opeet, piekniekmiddagete, inloer by Le Mirage se lushof van 'n hotel, hallo sê by Duwisib-kasteel, koffie in die bed kry by Sesriem, spek-en-eier ontbyt gee vir die fietsryer William Bennett wat besig is om oor die ganse Afrika te trap én teen sonsondergang die koppie agter Helmeringhausen-hotel uit te klim om te kyk na hoe die aarde se skaduwee oor die horison uitstyg. Môre is ons laaste dag, maar vandag sal vir ewig hou.Read more

  • Dag 18 - Terug huis toe

    May 21, 2017 in South Africa ⋅ ☀️ 25 °C

    Dit is sulke tyd. Na 'n vinnige koffie en beskuit in Helmeringhausen pak ons op en draai die bakkies suid, tussen die Tirasberg en Rooirand deur, verby springbok en Afrikaner, Neisipvlakte oor, verby gemsbok en volstruis, Aus-plato ook, Rekvlakte deur, Rosh Pinah vir brandstof, Sendelingsdrift vir paspoortstempels, pont oor Republiek toe. Die pad Alexanderbaai toe is sleg, en Jarra se baķkie tel 'n papwiel op. Ons maak gou reg, draai Steinkopf toe uit Port Nolloth, en dan lê net Springbok voor - dis waar ons toer saam met Rey Janse van Rensburg en Richtersveld Challenge eindig. In 18 wonderlike dae - so 4500 km - het ons landskappe gesien wat ons vir altyd sal onthou: die Epupawaterval onder die volmaan, die bergveld in die Otjihipa rondom Vanzylspas, die Marienfluss se witgeel grastapyt, Orupembe se klippers, die Khumibrivier se verwronge mopanie- en hardekoolstompe, die Hoanib se statige anabome, Brandberg teen sononder, Sossusvlei tussen die vingers en tone. Dankie, dit was 'n voorreg.

    * Lus om Kaokoland saam met Rey Janse van Rensburg te verken? Kontak catnap@mweb.co.za
    Read more

    Trip end
    May 21, 2017