traveled in 3 countries Read more
  • Day 17

    Dag 17- Istanbul na SA

    August 22, 2022 in South Africa ⋅ ☀️ 20 °C

    Okay... So die is die amptelike laaste Pikkewyn vir ons wittebroodtrippie! Laaste oggend opgestaan en met 'n spoed reggemaak, tasse reeds die vorige aand vir die grootste deel gepak en toe spring ons in 'n taxi Grand Bazaar toe, om die laaste goed te gaan koop. Ons het daar rondgehardloop soos afkop hoenders en toe weer uit om 'n tram te soek terug na ons blyplek toe, om betyds te wees vir check out. Op die trein gehop en by die verblyf aangekom, het ons gou die laaste goed gepak in die nuwe tas vir Kabouter en ons is toe daar uit. Op die kaartjies sê dit toe die lughawe waar ons van vlieg is Ataturk, en ons besluit toe met al ons bagasie 'n Uber beter sal wees om te vat. Die bestuurder verstaan toe nou nie 'n woord Engels nie, maar gelukkig het 'n goed Translate vir ons op sy foon, net sodat hy vir ons sê dat daai lughawe al 'n paar jaar gelede toegemaak het. Dankie tog hy sê ons toe en vat ons toe na die regte een toe! By die lughawe aangekom, het ons die wag speletjie gespeel, aangesien ons nog nie ons tasse kon incheck nie en ons heeeeeeeltemal te vroeg daar was! Na ons uiteindelik kon incheck, is ons gou deur Duty free en toe het ons onsself fancy gaan hou in die lounge! Heeltemal te veel geëet en drink en is toe nou lekker lui vliegtuig toe. Die vlug was darm nie te erg nie, ons het nog lekker kos op die vliegtuig gekry en land toe so 01:00 in Dubai. Ons het toe maar dadelik by ons hek gaan sit en wag, albei lekker moeg, maar vasberade om nie te slaap nie. Na ons geboard het en op die vliegtuig geklim het, was die vliegtuig so lekker leeg, dat ons sommer 'n ry met 4 sitplekke vir onsself gevat het! Dit was die lekkerste ding, aangesien ons toe nou heeeeerlik geslaap het vir die grootste deel van die vlug! Luuks! Ons is so 2 ure voor ons geland het wakker gemaak vir ontbyt en het toe nou maar rustig gewag om te land. Uit die vliegtuig geklim word ons gegroet met lugte en roltrappe wat nie werk nie en ons weet... Home sweet home!
    Baie baie dankie vir elke een wat ons trippie so mooi getrou gevolg het!
    Tot 'n volgende keer...
    Baie groete en liefde!♡♡♡
    Read more

  • Day 16

    Dag 16 - Istanbul

    August 21, 2022 in Turkey ⋅ ⛅ 27 °C

    Ek het weer deur my alarms (Ja, meer as een) geslaap en as ek deur dit slaap, word Damian definitief ook nie wakker nie. Dit het ons hele dag se beplanning deurmekaar gegooi en ons het toe eintlik baie minder gedoen as wat ons wou en moes. Toe ons nou uiteindelik wakker en reg is, is ons na Dolmabache Palace toe. Dis ongelooflik mooi en indrukwekkend. Daar het baie Keisers daar gebly en dit was ook vir 'n ruk as 'n regerings gebou gebruik. Dit bestaan uit 285 kamers, 46 sale, 6 baddens en 68 toilette. Imagine... Dit is ook teenaan die Bosphuros kuslyn gebou, so die uitsig is ook baie mooi uit die paleis uit. Die groot tuine is ongelukkig onder konstruksie en mens mag glad nie foto's binne die geboue neem nie. Na ons daar klaar was, is ons eers terug huistoe. Ons het later toe weer die strate ingevaar en gou bietjie laaste geskenkies gekoop... Die heel eerste aand wat ons daar was het ons by 'n vrek lekker plek aandete geëet met die lekkerste kos, so toe besluit ons om die trippie weer af te sluit met aandete by die plekkie. Ons wou baie graag Turkish bath en besluit toe na ete dat ons na die een toe gaan gaan wat een van ons gidse aanbeveel het. Ons klim toe op 'n Tram, wat soos 'n trein is. Ons besef toe vinnig dat ons besig is om na die verkeerde kant toe te ry, maar natuurlik nie voor die tram ombeweeglik vol is nie. Ons druk toe maar sukkel-sukkel deur almal by die volgende stasie en hop toe op die regte tram. Toe hy sy einde van die spoor bereik, het ons nog vir forever geloop om by die ferry uit te kom, aangesien die plek aan die Asia kant is. Ons het seker so 23:30 daar aangekom en die ou sê toe dat hulle net mans vanaand vat en dat ek more kan gaan. Ons besluit toe dat Damian dit nogsteeds moet doen en ek gaan sit toe en drink sap in die kafee langsaan. Damian kom toe sommer 'n nuwe mens daar uit! Van daar is ons toe nou weer Ferry toe, hop op Binbin's en gaan spring in die bed! Kan nie glo dis ons laaste aand gewees nie!
    Al ons groete en liefde!♡♡♡
    Read more

  • Day 15

    Dag 15- Istanbul en Princess Island

    August 20, 2022 in Turkey ⋅ ☀️ 29 °C

    Ons was vroeg uit die vere, aangesien ons 8 uur by die Toergids plek moes wees. Half 8 sit ons toe nou gereed in hulle venstertjie en wag... En wag... En wag... Teen kwart voor 9 kom daar 'n vroutjie en sluit die plek oop. Hulle het nie kommunikasie met mekaar gehad nie, sy het nie geweet ons moes gaan toer nie en het toe nou 'n paar oproepe gemaak en 'n rukkie later hop ons op ons bus. Albei van ons nog lekker moeg, slaap ons terwyl al die ander mense opgelaai word en Damian hoor iemand Afrikaans praat. Hy dink dis seker sy drome en slaap verder... By die boot aangekom, gaan sit ons toe nou en wag weer om te vertrek, die Turke is nogal tydsaam. Ons beoog 'n oom en tannie en besluit ons dink hulle is Afrikaans en van Suid-Afrika af. Toe ons uiteindelik begin beweeg, vertel die vroutjie oor die mikrofoon vir ons klomp interessanthede soos ons verby die geboue ry en daar kom mense met 'n pappegaai verby om mee foto's te neem. Ons het twee eilande besoek. Toe ons by die eerste een kom, is ons toergids sommer weg. Hier dog ons ons kry 'n begeleide toer van die eiland, maar toe nou nie. Ons gesels toe nou met die oom en tannie wat ons besluit het van Suid-Afrika af kom, wat toe nou van Kaapstad is. Ons loop toe en gesels 'n rukkie met hulle, ons toergids kom verby en sê hoe laat ons weer op die boot moet wees en daar gaan hy weer. Ons gaan toe eers ons eie pad, koop die lekkerste broodjie wat ons deel en loop bietjie rond. Damian het toe 'n bietjie gaan swem daar tussen die rotse en ek wag toe maar daar op die droeë rotse, nie lus vir al die admin wat saam swem gaan nie. Daarna gaan sit ons by 'n restaurantjie wat ons belowe hulle het die lekkerste kos en wat wat. Eintlik het ons hulle net gekies vir 'n badkamer, sodat Damian uit sy swemklere kon klim. Ons besluit toe ons gaan 'n kalamarie deel, want ons kry nou nou middagete op die boot. Bestel die R120 kalamarie en is toe nou heeltemal verbaas toe daar letterlik 6 ringe opdaag, niks chips of enige iets anders nie. Dit was definitief ook nie baie lekker nie, so ons eet toe maar lang tand en gaan terug boot toe. Toe ons in die eetsaal sitplek soek, nooi die Suid-Afrikaners ons om by hulle te sit. Ons gesels toe nou so lekker deur middagete, dat ons op die volgende eiland gaan sit en ietsie saam drink en toe die hele pad terug ook saam sit en gesels. Voel amper of hulle nou al jare lange vriende is! Groot inspirasie vir ons, want mens kan die liefde tussen hulle sien, volgende jaar al 30 jaar getroud en ook 'n paartjie wat in skool begin uitgaan het! Na die trippie klaar was, kry ons vir ons Binbin's naby die hawe en jaag huistoe. Ek sukkel maar bietjie met die dingetjie en al die mense en verkeer en Damian het die tyd van sy lewe! By die huis is ons toe nou so uitgeput en warm na die dag, dat ons 19:00 aan die slaap raak. Ons word toe so 22:00 weer wakker, want blykbaar is dit 'n ding om 22:00 op 'n Saterdagaand die trappe van die gebou se teëls af te kap en oor te teël. Gelukkig slaap die plek mos nooit nie en ons trek aan en loop na 'n restaurant vir aandete. Dit was 'n Rooftop restaurant, met die mooiste uitsig, waar ons toe nou so lekker kuier dat ons eers 01:30 weer huistoe is en toe weer dadelik in die kooi is!
    Al ons groete en liefde♡
    Read more

  • Day 14

    Dag 14- Istanbul

    August 19, 2022 in Turkey ⋅ ☀️ 30 °C

    2 Weke getroud! Wie sou kon raai... Ons het 'n vroeë oggend gehad, aangesien ons die karretjie moes gaan teruggee. Toe ons hom klaar ingegee het en hulle het gesê ons kan gaan, toe is ons eintlik sommer verbaas oor wat nou. Ons gaan sit toe maar by 'n naby geleë plekkie en sorteer ons lewe uit. Eers is ons toe gou huistoe. Ons het dit reggekry om vir ons Binbin's (Lyk soos 'n elektriese trap scootertjie) en is van daar af gou huis toe en toe na die Galata toring toe. Daar was 'n baie lang ry om in te kom en ons besluit toe om eers iets te kry om te drink, omdat dit vrek warm hier is. Ons gaan staan toe maar in die ry en wag saam almal anders. Ons het onsself solank voorberei vir honderde trappies op, net om in te kom en baie dankbaar uit te vind daar is 'n huisbak wat almal opvat. Op die 6de vloer gekom, toe moes ons steeds nog 'n vloer of wat klim. Ek het by die vloer gebly waar ek alles mooi deur die venstertjies kom kyk en Damian het nog een hoër en buitentoe gegaan. Dis baie mooibvan daar bo af en hulle het op elke vloer af soos 'n super mini museum van alles. Van daar af het ons deur die straatjies gestap en toe oor die Galata brug om aan die Europese kant te kom. Dis 'n lekker lang brug en die uitsigte is pragtig! Dit ruik wel bietjie, uhm, visserig, aangesien daar vreeslik baie vissermannetjies is wat sulke kleeeeeeein vissies vang! Cute! Ons het toe deur die Egyptian Bazaar geloop en aan die anderkant weer Binbin's gekry om na die Basilica Cistern te ry. Daar was ook 'n baie lang ry en Damian het eers gegaan om sy Binbin te bêre, terwyl ek nog met myne in die ry gestaan het. Hy is die een wat my heeltyd hotspot, so ek kon nie my Binbin los nie en toe verdwyn hy en kom nie terug nie. Teen die tyd wat ek al voor in die ry is, was ek ene paniek en het toe nou maar my plek in die ry opgegee, my Binbin gevat en hom gaan soek! Hy was nie te vêr gewees nie, maar het gesukkel om sy Binbin af te sluit en was op die foon en sommer saam 'n paar locals om dit te probeer uitsorteer. Toe hy uiteindelik regkom, is ons weer terug ry toe. Dit het darm nie te lank gevat nie en ons kon ingaan. Die Basilica Cistern is 'n ondergrondse stad tipe ding, wat gevul is net water en baie mooi torings. Dit verbind verskillende dele van die stad deur kanale met mekaar. Hulle het dit onlangs oor gedoen en is nou eers weer vir 'n week of twee oop. Toe ons daar klaar was, was dit amper tyd vir ons staptoer. Ons gaan wag toe maar vir ons gids, met sy geel rugsak en oranje sambreel by die Duitse fontein. Was die mannetjie nou pret! Hy het ongelooflik baie kennis en 'n lekker sin vir humor. Ons het dit so geniet! Ons het uitndie aard van diensaak by die Duitse fontein begin, wat deur een of ander Duitse keiser aan die stad geskenk is. Dit is heeltemal in Duitsland vervaardig en toe per skip hierna toe gebring. Dit is in 1900 opgerig. Volgens die toergids een van die nuutste toevoegings in die stad. Van daar af het ons gestap na die verskillende Monument goedjies in die Hippodrome toe. Dit het vreeslike interessante geskiendenis agter elkeen, maar dit heeltemal te veel om te tik! Die Hippodrome of Constantinople is nou 'n plein met fonteine en plek om te sit, grassies en so, maar was donkiejare terug 'n "sirkus" hulle noem dit so, nie ek nie. Hier het perde en perdekar resies plaas gevind en was ook gesien as 'n plek om te sosialiseer. Daar is vandag nie veel oor daarvan nie, maar later op ons toer het die gids ons die mure ook gewys. Toe ons daar klaar was is ons na die Sokullu Mehmed Pasha Moskee toe. Mens mag nie as 'n toergroep ingaan nie en die gids het toe net buite vir ons alles vertel en so aan. Ons het toe verder gestap na Klein Hagia Sophia, wat gebou is net voor die groot een, as 'n proeflopie om te sien of die koepel moontlik is en gaan werk. Dit het gewerk... Ons het daarna gou deur die Arasta Bazaar gestap en is toe verby die Blou Moskee, maar nie ingegaan nie as gevolg van die restourasies. Daarna is na Hagia Sophia, waar die toer ook afgesluit was. Dit was 'n ongelooflike ervaring en die ou het soveel kennis met ons gedeel! Ons is daarna toe oppad huistoe met die hoop om Binbin's te kry. Ons het 'n goeie deel van die 6km gestap, voor ons die laaste 1,6 km Binbin's gekry het en toe op dit verder gejaag het. Ons was toe seervoet in die kooi! Fluit fluit, my storie is uit!
    Al ons groete en liefde!♡
    Read more

  • Day 13

    Dag 13- Troy na Istanbul

    August 18, 2022 in Turkey ⋅ ☀️ 32 °C

    Goeiste! Was vandag nou 'n mission... Toe ons wakker word moes Damian eers gou werk. Die Chinese het mos geen perke nie. Na dit is ons toe af onder toe met ons tassies en Damian het gou gestap om die kar te gaan haal. Ons moes in 'n "OtoPark" gestop het, oor daar geen parkeer plek is nie. Ons het gister die pad met die tasse aangepak, maar het vandag dit slimmer gedoen. Ons is toe na die Troy museum toe en het daar deur geloop en Audio-guides gehad wat ons geleer het van alles. Nogal oulik, hulle gee vir mens 'n selfoontjie met jou oorfone en dan tik jy die nommer van die uitstalling in en dan speel dit die inligting. Van daar het ons gery om na die perd te gaan kyk en het toe gery na Gallipoli, of wel dit was die plan. Ons volg toe mooi die GPs, oor 'n lang brug, al met 'n klein padjie af, op die grondpad... Net 5 km sê die GPs... Ons toe is daar niks! Daar was 'n ander kar wat ook deur dit alles was, shame! Ons sit toe ander plekke in en sien dat dit bietjie meer as 60 km, in die teenoorgestelde rigting is. Ons besluit toe maar eerder dat dit nie vir ons bestem is nie en vat die pad terug Istanbul toe. Op meeste van die paaie is daar elke 30 km of so petrolstasies en ons maak gewoonlik vol. Ons besluit toe vanoggend dat ons net 300 TL ingooi, aangesien ons more die motortjie met een strepie moet teruggee. Ons hou toe nie te mooi die petrol dop nie en toe gaan die alarmpie af vir 50 km... Ons was nie te veel gestres nie, want daar sal mos binnekort 'n petrolstasie wees. Toe nie! Ons kry toe eers 'n petrolstasie na ons seker vir 20 km op die strepies ry! Ek dink die vele gebede het ons daar gekry! Imagine nou ons gaan staan in die middel van die snelweg, in 'n land waar ons NIEMAND ken nie... Gelukkig toe nie! In Istanbul gekom, gaan ons dadelik na ons verblyf toe. Ons kry nie die mannetjie deur wie ons bespreek het in die hande nie en aangesien dit self incheck is, en hy nie die woonstelnommer gegee het nie, was ons toe eers bietjie verlore. Gelukkig na seker so halfuur het hy teruglaat weet dat ons kamer oopgesluit is en die kamer nommer deur gestuur! Ons het toe gou alles afgelaai en het toe gery na Old Town toe, waar ons 'n toer bespreek het, om te hoor wanneer dit gaan gebeur. Toe is die plek reeds gesluit... Gelukkig sit daar toe 'n ou voor die gebou en sien ons lyk bietjie verlore, hy ken die eienaar en bel hom toe sommer vinnig vir ons. Ons gaan nou Saterdag op ons toertjie! Mens ry 'n halfuur aan 6 km hier, want dit is net so vrek besig en die straatjies so klein! Ons het oppad terug besluit ons gaan ons kar by die blyplek los en dan na Taksim (So besige area met winkeltjies en eetplekke stap). Ek was so spyt na ek die 230 trappies moes op (ja ek het dit getel toe ons terugstap!)... Ons het toe daar rond geloop en aandete gekry. Ek is seker daarvan dat hierdie plek NOOIT OOIT slaap nie, aangesien die restaurante mens net voor 12 die aand nog innooi om te kom eet en amper al die winkeltjies dan nog oop is! Amazing! Ons het toe die tog terug aangepak, 230 trappies af en nou is ons in die bed!
    Al ons groete en liefde!♡
    Read more

  • Day 12

    Dag 12- Ephesus na Troy (Çannakale)

    August 17, 2022 in Turkey ⋅ ☀️ 32 °C

    Wat 'n belewenis was vandag nie... Na ons opgepak en gou ontbyt by die hotel geëet het, is ons sak en pak oppad na Ephesus. Toe ons daar inry, wys die een ou ons waar om te stop. Hy hoor ons praat en weet dadelik ons is Afrikaans en vertel ons dat hy een van Leon Schuster se flieks gekyk het. Ons koop by hom 'n boekie oor Ephesus en hy reël vir ons vervoer na die bokant van die terrein toe. Hy sê ons moet 10 minute wag en toe daag ons perde en perdekar op! So oulik! Die ou hanteer sy perde baie mooi en ons geniet die rit vreeslik baie! Ons het oorspronklik gedink met die boek is 'n gids nie nodig nie, maar het toe besluit om een te kry. Ons is definitief nie spyt nie! So het ons deur die Ou Stad geloop en vreeslik baie interessanthede geleer. Hulle is nog besig met opgrawings en daar is van die goed wat sommer 'n week of twee gelede nog gevind is. Mens kan ook sien hoe hulle staan en skoonmaak en opgrawe en tekere gaan. Dis besonders! Na ons deur die Stad was, het ons toergids saam ons gery om geld te trek, aangesien hy kontant wou hê en ons nie gehad het nie. Hy vat ons toe gou by 'n leerfabriek in waar hulle vir ons 'n klein modeparade hou. Shame, die arme ou kry seker kommissie op die items wat verkoop word en het seker gedink ons het baie geld. Die items is ongelooflik mooi en word van skaap- en bokleer gemaak, so dis vreeslik sag en lig. Dis net jammer die pryse is so... R25 000 min of meer per item! Selfs die wat op uitverkopings is, is om en by R10 000. Die gids het so ewe vir Damian in die kar gesê toe ek uitgehop het om geld te trek, dat hy kan sien ek is lief vir hom, maar net so 80% lief vir hom... Maar hy sal sien, as hy vir my ietsie by die plek koop, sal ek 100% lief wees vir hom! Haha! Nee! Van daar het ons weer die gids gaan aflaai en is ons na Moeder Maria se huis toe. Dit word gesê dat dit die laaste plek van woning vir haar was voor sy oorlede is. Dis op 'n baie rustige berg, tussen klomp bome. Mens mag glad nie foto's neem as mens deur haar huisie stap nie en word ook nie toegelaat om te praat terwyl mens daardeur stap nie. Mens kan 'n kersie buite opsteek vir 5 TL elk en ons het toe so gemaak. Van daar af het ons toe gery Çannakale toe, wat naby Troy is. Ons het ons baie oulike woonstelletjie vir die aand gekry en het toe rustig op die Promenade gaan stap en aandete gekry. En dit was die som totaal van ons Dag 12...
    Baie liefde en groete
    Read more

  • Day 11

    Dag 11 - Pamukkale na Ephesus

    August 16, 2022 in Turkey ⋅ 🌙 22 °C

    Ons het lekker vroeg opgestaan om vanoggend voor al die ander toeriste by die mineraalbaddens uit te kom. Dit is verskriklik mooi, maar bitter min van die poele het water in. Ons het deur een van hulle geloop en toe vir 'n rukkie met ons voete in die stroom warm water gesit wat deur loop. Dit raak baie vinnig vol daar en ons is toe eers gou terug hotel toe vir ontbyt en om gou ons goedjies te pak en skoon wasgoed te kry! Yeah! Na ons uitgecheck het, is ons terug na die Pamukkale "oord" toe. Daar het ons rondgeloop en na Hierapolis gaan kyk. Dit is 'n vervalle Griekse stad wat net agter die klippe is. Daar is ook 'n ongelooflike Arena wat nog staan en dis nogal iets om te dink dat die mense dit alles gebou het, sonder enige van die toerusting wat ons vandag het. Toe ons daar klaar was, het ons verder gery Ephesus toe. Ons het vroegerig hier aangekom en toe 'n vinnige middagslapie ingewerk. Ons het daarna bietjie in die dorp gaan rondloop. Dis 'n klein dorpie met nie te veel wat gebeur nie en ons het toe besluit om na die naaste strand, wat so 20 km weg is, te ry. Toe ons daar kom het ons seker veraltyd eers gesoek vir parkeer plek. Dis vrek besig daar! Ons het vinnig ons voete in die see gaan sit, dit word die Aegean see hier genoem. Ons het toe maar rondgeloop daar, gekyk na al die mense en stalletjies en toe gesit en natuurlik 'n Nutella wafel geëet... Damian en sy Nutella maak my mal, well, seker eintlik nie... Want ek trek ook voordeel daaruit! Ons het deur die hotel 'n toer vir more probeer bespreek, maar kommunikasie is maar 'n probleem. Ons het dit toe ook self probeer en het besluit dat ons eerder net na die plekke self toe gaan gaan en dan daar 'n gids sal kry. Vir nou is ons doodmoeg en gaan ons heerlik slaap!
    Al ons groete en liefde ♡
    Read more

  • Day 10

    Dag 10- Kaş na Pamukkale

    August 15, 2022 in Turkey ⋅ 🌙 24 °C

    Kaş en die omliggende area is vreeslik mooi, maar daar is nie vreeslik baie om te doen anders as 'n lekker see dag en boot toer nie. Ons was te laat vir die boot toer en het toe bietjie tyd op die strand, wat ook net uit klippe bestaan spandeer. Die strande is ongelooflik mooi en die water so mooi helder. Daar is ook nie vreeslik baie branders nie, eerder net golwe. Die water is ook BAIE meer sout as die strande en see in Suid Afrika, of wel, dit voel vir ons so. Na ons geswem het, het ons rustig gesit en middagete eet, 'n Nutella wafel gekry en toe verder gery na Pamukkale toe. Ons het in ons hotel ingebook, wat baie lekker is en genadiglik word ons wasgoed gewas! Dankie tog! Ons het toe bietjie gaan rondloop in die dorp en baie rustig gesit en kuier vir aandete met 'n uitsig oor die mineraal baddens. Van daar het ons geloop na die dammetjie vol eende en toe 'n rit op die trapboot gevat, so mooi en romanties! Die trapboot is ook in die vorm van 'n eend! Dis baie oulik! Die mense hier is rerig so vriendelik en wil net alles aan mens verkoop. Elke aand sê ons ons gaan 'n vroeë aand hê en keer op keer is ons eers net voor of na 12 in die bed... Vanaand is weer so aand en nou gaan ons lekker slaap!
    Baie groete en liefde!♡
    Read more

  • Day 9

    Dag 9 - Antalya na Kaş

    August 14, 2022 in Turkey ⋅ ☀️ 30 °C

    Aangesien ons nog moes Kaş toe ry, het ons besluit om eerder ons eie toertjie uit te werk as om 'n toer te bespreek by Antalya. Ons het bietjie navorsing gedoen en toe ons roete beplan. Ons het begin by die Upper Duden Waterval, wat hoër op in die stad is. Dis baie mooi daar en daar is 'n paadjie dat mens agter die waterval self ook kan ingaan. Hulle het ook twee pragtige pappegaaie waarmee mens foto's kan neem. Een blou en een rooi. Ons het daar ook sommer vir ons Turkish Pancakes bestel, wat hulle daar vars sit en maak. Dis rerig besonders lekker! Van daar af is ons na Kursunulu Waterval. Die water daar is so turquoise kleur en mens kan al die duisende visse en so deur die water sien! Ek is daar in net my plakkies, min wettend dat mens 'n hele op en af staproete moet doen om weer by die uitgang uit te kom. Ek het darm oorleef. Perge was toe ons volgende stop. Dit is 'n Romeinse stad wat hulle besig is om op te grawe en te herbou. Paulus het ook volgens Handelinge die stad twee keer besoek in sy leeftyd. Dit is nogals 'n belewenis as mens hier stap en besef dat dieselfde mense in die Bybel ook hier was. Van daar af het ons gou na Lower Duden Waterval gaan kyk, wat dieselfde rivier as die Upper Duden Waterval is, maar die Waterval val in die see in. Dis ongelooflik mooi! Dit was 'n ongelooflike warm dag en mens kan nie van Antalya af weggaan sonder om tenminste een keer in die see te swem nie. Ons is toe stand toe vir 'n vinnige swem. Die hele strand bestaan uit klippies. Dis so gerieflik, want anders as sand gee jy een skud en jy en jou handdoek is skoon! Die water was ongelooflik en ons het die swem heeltemal te veel geniet! Om op klippies te loop en uit die see uit te probeer kom, is wel meer uitdagend as sand, dit sak soveel meer en vinniger weg onder 'n mens. Van daar het ons toe weer die lang pad aangedurf na ons volgende bestemming, Kaş. Die pad is so mooi, dit volg heeltyd die kus en mens kyk amper heeltyd oor die see uit. Ons verblyf was baie cute en die ou noem dit "Hobbit Home". Dis op 'n klein klein plasie (In Suid Afrika sou ons sommer sê dis n plot, maar okay, plasie) in die middel van die dorp. Ons skoonklere is besig om uit te hardloop en ons jaag toe nou rond opsoek na 'n plek om dit te was. Ons kom toe op die een plek af, maar hulle vra ons R30 per item wat ons wil was. Na ons amper beswyk het aan 'n hartaanval is ons en ons vuilklere toe eerder opsoek na kos. Nog 'n hartaanval situasie. Die meeste eet plekke is op die hawe... So so mooi! Toe ons daar stop, sien ons daar is 'n laudromat en die ou sê ons kan moreoggend ons klere bring. Dankie tog! Ons stap toe deur opsoek na kos. In Turkye vertoon al die eetplekke hulle spyskaarte by die ingang waar mens dan kan sien wat hulle bied en hoe die pryse lyk, voor mens besluit of mens wil ingaan of nie. Hartaanval nommer twee het toe vir ons gewink. Die gemiddelde ete wat ons gesien het was tussen R300-R500 per ete. Ons, ons honger mage en vuil wasgoed klim toe weer summier in die kar. Ons kry toe nie 'n ander eetplek nie en stop toe maar by die supermark en koop 'n paar goedjies om ons eie kos te maak. Ons Hobbit Huis se toerusting is bietjie beperk en ons maak toe maar die beste wat ons kan. Magie vol, ogies toe...
    Al ons liefde en groete...♡
    Read more

  • Day 8

    Dag 8 - Antalya

    August 13, 2022 in Turkey ⋅ ☀️ 32 °C

    Aangesien ons bitter min slaap ingekry het die afgelope paar dae met ons besige skedules, het ons 'n heerlike, stadige Saterdag gehad... Ons het bietjie laat geslaap, geen alarms of enige plek om te wees nie. Toe ons klaar opgestaan en klaar gemaak het, het ons die strate ingevaar. Ons het lekker rondgeloop en na die klomp winkeltjies gekyk. Ons is toe na die "Old Bazaar" toe, waar ons rondgekyk het en toe sommer vir ons handdoeke gekoop het. Van daar af is ons Old City toe, waar die stad begin het. Dit is nou gevul met klomp klein winkeltjies, waardeur ons gestap het. Ons het na die toring gaan kyk en is toe sommer daar by 'n klein museumpie in. Dit was ongelooflik warm en ek was seker daarvan dat ons gaan sterf van hitte uitputting! Dit was rerig erg! Haha! So toe stap ons stadig aan terug na ons hotel se kant toe. Ons stop toe gou eers by die mall, want orals sien ons advertensies van Nutella roomys en aangesien dit deesdae Damian se gunsteling is, moes ons dit opspoor! Dit was toe nou nie in die Mall nie, maar ons het toe gou middagete gekry en is toe huistoe vir 'n middagslapie en die rugby. Dis nogal 'n storie om in die land te probeer rugby kyk. Na die rugby het ons Land of the Legends toe gegaan, waar ons gesien het almal wag om die fontein vir wat ons gedink het 'n water vertoning gaan wees. Groot was ons teleurstelling toe dit na 40 minute se wag 'n kindervertoning met 'n beer was! Ons loop toe maar deur, dis vrek mooi daar, maar alles is ONGELOOFLIK duur daar. Ons wou oorspronklik aandete daar eet, maar het besluit teen daai prys mag ons dalk bankrot daar uitstap. Ons het toe maar die liggies en kasteel gaan kyk en toe gery om kos te soek. Aangesien dit net voor 12 die aand was, was daar nie rerig baie plekke oop nie en is ons toe by die Mc Donald's in. Hulle kos proe rerig nog anders as ons sin ook! Dis baie opvallend dat die Turke MAL oor tamatie is, aangesien daar tamatie in amper elke dis is, maar dit was vir my ook baie duidelik toe ek sien dat saam hulle Happy Meals, jy 'n bygereg van Cocktail tamaties kan vat! Van daar is ons toe oppad huistoe, toe ons verby die Nutella roomys plek ry! Dadelik 'n U-draai gemaak en gaan roomys koop! Ek bedoel, watse roomys winkel is inelkgeval nog oop 00:45? Die roomys was baie lekker en boonop nog goedkoop ook! Twee sugar cones, met twee scopes elk, was so R28 saam... Ons was gelukkig! Van daar is ons toe nou Hotel toe en terug in die kooi!
    Al ons groete en liefde!♡
    Read more

Join us:

FindPenguins for iOSFindPenguins for Android