• WegTydskrif
  • WegTydskrif

Kom ons ry Kongo toe

93-dniowa przygoda według WegTydskrif Czytaj więcej
  • Ngorongoro-krater

    23 października 2016, Tanzania ⋅ ☁️ 12 °C

    Dit kos 'n fortuin om hier in te gaan, maar wat 'n plek! Ngorongoro doen sy reputasie as diereparadys gestand: ons sien leeus met welpies wat 'n buffel vreet, derduisende sebras en wildebeeste op die kratervloer, meer gompoue en mahemkraanvoëls as wat jy kon droom, dikgevrete hiënas wat om 'n poel hul babelaas afslaap... Vanaand slaap ons goed: 'n leeu brul in die verte en buffels drentel in die kamp rond. Môre ry ons Serengeti toe. Czytaj więcej

  • Serengeti - Dag 2

    25 października 2016, Tanzania ⋅ ⛅ 27 °C

    Die dag breek rooi en mooi, en later pak die wolke saam - én die hamerkop vlieg hoog - maar reën reën dit nie. Ons ry eers noord van ons kampplek (Dik-Dik, naby Seronera) tot by 'n poel waarin 40 seekoeie lê, daarna draai ons weer terug na rondom Seronera waar die leeus weer vir ons wag: hier 'n wyfie met 'n sebravangs, elders twee jong mannetjies wat slaap, en teen sonsondergang 'n hele familie wat die laaste beendere van 'n karkas uitmekaarskeur. Nou is dit donker, en tyd vir kosmaak by die kamp. Czytaj więcej

  • Serengeti - Dag 3

    26 października 2016, Tanzania ⋅ 🌙 19 °C

    Dis ons laaste voldag in die park, en na volmaak by Seronera (dis nou ná ons vir 'n uur na 'n luiperd in 'n boom gekyk het) ry ons - met wasgoed wat droogword op die dashboard - noordweswaarts na die Western Corridor waar ons beplan om by Kirawira te kamp. Hoe dieper ons die Western Corridor binnery, hoe groener word dit, en hoe meer wildebeeste sien ons. Duisende en duisende. 'n Deel van die groot migrasie het hierdie area bereik, en die oorvloed diere laat jou kop draai. Grace sien jagluiperd raak reg teen die pad, en ons sit 45 min daar voor die volgende kar opdaag - hierdie deel van die park is baie stiller as die suide. Alice verfyn intussen die kuns van selfoonfoto's neem deur die verkyker. By Kirawira aangekom hoor ons daar is geen openbare kampplek nie, maar gelukkig laat die rangers ons toe om by die piekniekplek te kamp. Heelnag nurk die poel vol seekoeie, skaars 50 treë weg in die Grumetirivier. Czytaj więcej

  • Victoriameer

    27 października 2016, Tanzania ⋅ ⛅ 25 °C

    Om na 'n week se sinkplaatslaggatstofpad weer teerpad onder die Fortuner se wiele te voel - lekker! Dis hartseer om tot siens te sê vir die Serengeti en sy wemelende vlaktes, maar verfrissend om Victoriameer se waters te sien. Ons slaap vanaand - op beddens vir 'n verandering - by Tunza Resort in Mwanza, 'n woelige hawestad op die meer. Czytaj więcej

  • Kom ons bespreek: Serengeti Lager

    27 października 2016, Tanzania ⋅ ⛅ 25 °C

    Vernoem na een van Afrika se grootste wildkykareas - en met 'n forse luiperd op die etiket - jy weet mos dit gaan goed wees! Serengeti het nie veel van 'n smaak nie: dis bier, en dis dit. Maar sy 4.8% skop nogals. Dit gaan goed af hier waar ek nou vir die horison van die Victoriameer sit en wag om die sakkende son in te sluk. Tussen teue droom ek van die Serengeti, en veral gisteroggend se luiperd, rustend op 'n boomtak. Czytaj więcej

  • Kigali, Rwanda

    29 października 2016, Rwanda ⋅ ⛅ 20 °C

    Rwanda is dadelik anders: netjies, g'n rommel, beter paaie. In nat valleie sprei ryslande oop. Meer polisie (wat hou van kar deursoek). Geelbekwoue. Heuwels en nog heuwels. O, ja, en jy moet aan die regterkant van die pad ry... Kigali is groot en bedrywig. Vanaand het ons uitspattig gaan uiteet by 'n Indiese restaurant, en toe vir Patrick en Grace by die lughawe gaan aflaai - hulle vlieg nou terug SA toe ná drie weke op toer saam met my en Alice. Totsiens julle, dit was lekker! Czytaj więcej

  • Kigali - rondstap en dinge doen

    31 października 2016, Rwanda ⋅ ⛅ 25 °C

    Gister was Sondag, en ons het gerus. Vandag doen ons 'n paar dinge in die stad, beginnende met koffie, ontbyt en poskaarte skryf by Ikerezi-boekwinkel, sommer naby ons hotel. Dit kyk uit oor die stad, nou en dan draai 'n jakkalsvoël hoog verby. Hierna besoek ons die roerende Genocide Memorial, 'n museum en gedenktuin. Dit is nou al 20 jaar gelede, maar dit is merkwaardig dat die Rwandese na so 'n volkstragedie kon herstel. Czytaj więcej

  • Volcanoes- nasionale park

    2 listopada 2016, Rwanda ⋅ ☀️ 19 °C

    Hierdie park is in die noordwestelike hoek van Rwanda, waar dit grens aan Uganda en die Kongo. Meeste toeriste kom hierheen om berggorillas te sien, maar ons het die (veel goedkoper) goue-aap ("golden monkey") ekskursie gedoen. Jy stap tot in 'n bamboeswoud teen die berghange en kyk dan hoe die ape nou en dan afskarrel na die grond om jong bamboesspriete af te breek wat hulle dan bo in die blaredak sit en vreet. Na die tyd het ons self iets gaan eet (maar die Rwandese chillie-olie eenkant gelos...), en na die reuse gorillabeeld gaan kyk op die terrein waar die jaarlikse gorilla naamgee-plegtigheid gehou word. Tydens dié affêre kry al die jaar se nuwe gorillababas naam. Ons slaap oor by Red Rocks, 'n netjiese backpackers in die omgewing. Czytaj więcej

  • Kom ons bespreek: Skol Lager

    2 listopada 2016, Rwanda ⋅ ☀️ 18 °C

    Bier is nie die eerste ding waaraan jy dink wanneer Rwanda ter sprake kom nie, maar die land het 'n handvol plaaslik-vervaardigde biere. Skol se 5% alkohol belowe skop, maar dis eintlik 'n bedeesde bier. Dit het vroeër vanaand goed te pas gekom toe ek en Alice die geskiedenis van Suid-Afrika in 'n neutedop moes uitlê aan 'n Nederlander tydens aandete (beesbredie) by die backpackers. Terug Skol toe! Czytaj więcej

  • Nyiragongo-vulkaan, Kongo

    4 listopada 2016, DR Konga ⋅ ☀️ 19 °C

    Dit was harde werk: vyf ure se steil klim byna reguit op teen die Nyiragongo-vulkaan - met los klippe, reën en krampe. Maar was dit die moeite werd! Bo gekom is jy op die kraterrand van dié aktiewe vulkaan, met die lawa wat ver onder jou prut. Dit was koud deur die nag, maar ons was gelukkig met die weer en kon 'n sonsopkoms soos min geniet. Czytaj więcej

  • Kom ons bespreek: Simba Lager

    5 listopada 2016, DR Konga ⋅ ⛅ 28 °C

    Hierdie fris 5% Kongo-bier kom in 'n allemintige 650 ml-bottel - jy moet dus gereed wees om bier te drink wanneer die kelner hom voor jou neersit. Simba is lekker, en sonder fiemies. Dit het goed afgegaan saam met my halwe hoender en skyfies hier by Hotel Cap Kivu in Goma, wat uitkyk oor die Kivumeer. Czytaj więcej

  • Berggorillas in die Kongo

    6 listopada 2016, DR Konga ⋅ ⛅ 31 °C

    Vandag het ek die voorreg gehad om berggorillas van naby te sien in die Virunga- nasionale park in die Kongo naby Goma. Ons was ook gelukkig: 'n nuwe kleinding het deur die nag aangekom en ons was die eerste toeriste om die outjie te sien! Dit was 'n stywe twee ure se stap om die gorillas te bereik, maar daar gekom het hulle hulself gedra en rustig op een plek bly sit, eintlik lê, meeste van die tyd. Czytaj więcej

  • Die pad na Kibuye

    7 listopada 2016, Rwanda ⋅ ⛅ 0 °C

    'n Kaart en GPS kan jou net soveel vertel. Na 'n lui oggend in Gisenyi ry ons suidwaarts teen die Kivumeer na Kibuye. Ons stop om mooi teeplantasies af te neem. Dan kry ons padwerke, en reën, modder, vragmotors wat vassit... en dinge raak sports. Die Fortuner hanteer die situasie egter goed en ons kom teen sonsondergang veilig in Kibuye aan. Ons slaap vanaand by die Hotel Bethany - dit sous te hard vir tentslaap. Czytaj więcej

  • Nyungwe- nasionale park

    10 listopada 2016, Rwanda ⋅ ⛅ 27 °C

    In die suide van Rwanda, teen die Burundi-grens, lê dalk hul mooiste park: Nyungwe. Bergwoud, sjimpansees, endemiese voëls - en stilte. Dís wat Nyungwe jou bied. Ons kamp (onderdak, op netjiese stellasies wat die ergste klammigheid weghou) by Uwinka, maak vuur, maak kos. Saans, behalwe vir die weemoedige geskrou van boomdassies, sak die stilte (en soms die reën) neer. Soggens praat die reuse blouloeries ons wakker. Vrede. Czytaj więcej

  • Terug na links, Rusumo

    12 listopada 2016, Tanzania ⋅ ⛅ 30 °C

    By die Rusumo-grenspos is daar 'n plek in niemandsland - tussen Rwanda en Tanzanië se grensposte - waar jy van "kante" verander. In Rwanda bestuur jy aan die regterkant van die pad, maar in Tanzanië links. Rusumo is een van die mees moeitelose grensposte wat ons teegekom het op ons toer: moderne geboue, vriendelike personeel en logiese uiteensetting van dinge. Czytaj więcej

  • Ujiji

    14 listopada 2016, Tanzania ⋅ ⛅ 26 °C

    "Mr Livingstone, I presume?" Dít was Henry Morton Stanley se gevleuelde woorde aan David Livingstone toe hy hom byna presies 145 jaar gelede (onder 'n mangoboom) in die hawedorpie Ujiji teen die Tanganjikameer opgespoor het. Ons besoek hierdie geskiedkundige plek, eet vis en hoender en pap saam met bootbouers, koop 'n helder deken by vlytige en vriendelike vroue en eindig die dag met 'n 10/10 sonsondergang. Czytaj więcej