Europa 2022

June 2022
A 15-day adventure by Marise Read more
  • 15footprints
  • 4countries
  • 15days
  • 142photos
  • 0videos
  • 8.0kkilometers
  • 5.6kkilometers
  • Day 1

    Visa stories

    June 10, 2022 in Ethiopia ⋅ ⛅ 21 °C

    Ok, soos gewoonlik het als op die nippertjie gebeur. Maar dis mos waar die magic in die lewe lê (maak nie saak hoe goed 'n rugby wedstryd was nie, dis daai drie ná die eindfluitjie wat mens onthou). Ek het egter al in April begin reël aan my visa maar die eerste datum wat ek kon kry vir die fisiese afspraak was 31 Mei. Maar, soos Liehet sê, trust nou die een keer wat Marise iets betyds doen dat dit verkeerd loop.
    Ek het toe nou vroeg-vroeg vanoggend deurgery Pretoria, sonder dat ek my paspoort terug het, en TLS kantore toe gegaan om te hoor of daar nie 'n plan gemaak kan word nie. Hulle sê ek moet die ambassade self bel, wat ek toe doen, maar hulle visa afdeling is net beskikbaar 13:00-13:30. So kies ek maar die ontvangs opsie en die meisie sê die visa kollega sal my terugbel. Ek ry solank ambassade toe in Pretoria, van Sandton af, sodat ek my paspoort sommer daar kan oplaai ás hulle dit betyds kan doen. Tessa, van die visas by die ambassade, bel my en probeer als gou reël en laat weet my 11:35 ek kan my paspoort gaan kry (ek moes eintlik 11:25 al op die lughawe wees). Ek gaan haal toe vinnig my visa by Tessa, wat heel opgestres is vir my part (shame) en jaag lughawe toe. Op die lughawe koop ek gou eers die medisyne wat ek belowe het om saam te vat en die Grapetisers vir Tina, want dis wat sy mis van Suid-Afrika. En ek maak al die plekke net-net en is darem uiteindelik op die vlug.
    In Etiopië loop ek vir Oros raak. Ek én hy kyk albei 3 of 4 keer of ons reg sien, maar eet toe sommer gou aandete saam voor ons weer verder vlieg. En drink seker die lekkerste mangosap ooit.
    Môreoggend land ek in Brussels en dan gaan ek na Liehet en Hendrik toe.
    Read more

  • Day 2

    Aankom in België

    June 11, 2022 in Belgium ⋅ ⛅ 18 °C

    In Brussels aangekom, vat ek die geel en blou trein na Nederland en klim in Noorderkempen af, waar Liehet my oplaai. Ons gaan doen eers gou inkopies oppad huis toe. Hulle het soooo baie brode en ander oulike kosse. So baie verskillende tamaties.
    By die huis braai ons, Laudo speel in sy swembadjie en ons vang net lekker op en kuier bietjie.
    21:30 gaan stap ons, want dis nog helder daglig (eintlik sonsondergang, maar dit raak eers na 22:00 donker) en gaan slaap laat.
    Ook... findpenguins draai al my foto's om, maar is glo besig om dit reg te maak.
    Read more

  • Day 3

    Frida Kahlo en veel van Brussels

    June 12, 2022 in Belgium ⋅ ☁️ 20 °C

    Ja, ek weet nie hoe om veel en heel te gebruik in Nederlands nie, dis moeilik. Maar dis baie snaaks, die Nederlands. Van hulle allerdaagse woorde is maar lelik in Afrikaans (en andersom - soos Hendrik gou agtergekom het).
    In elk geval, ek word lekker vroeg wakker, want ek wou nie my shutters toemaak vir die son nie - in België kan mens besluit wanneer dit nag is. Jy maak net jou shutters toe en dan is dit pikdonker.
    Ek en Liehet vat toe die trein na Antwerpen centraal statie, waar ek 'n sim card wou koop, maar baie plekke is toe op 'n sondag (bv elke liewe selfoon netwerk winkel), dit staan dus oor tot more en ons vat die volgende trein na Brussels.
    In Brussels loop ons en neem klomp foto's, onder andere van Grand Place, 'n katedraal wat in die jaar 1000 gebou is, en nog vele ander plekke. Ons gaan eet ontbyt by 'n koffiewinkeltjie/restaurantjie, waar ons croissant, 'n baguette (vars, warm en crispy), kaas, botter, konfyt, vars uitgedrukte lemoensap en 'n warm drankie (beste hot chocolate van my lewe) kry. Daarna gaan ons Neuhaus toe - want Tina se ma-hulle het in 2016 vir my Nauhaus sjokolade gegee en ek onthou tot vandag toe hoe lekker dit was. Ek gaan môreoggend bel en plek bespreek by een van hulle sjokolade werkswinkels.
    Daarna gaan ons na Grand Casino om na die Frida Kahlo uitstalling te gaan kyk met klomp van Liehet se vriendinne. Dit was nogal uitsonderlik, met 'n tydlyn van haar lewe vooraf en dan in 'n groot saal nog inligting en video's oor Frida en haar kuns.
    Ons gaan eet toe by Wagamama - 'n oosterse kos restaurant en daarna vat Lisinda ons Atomion toe, maar dit is reeds toe. Ons kry egter die lekkerste belgiese wafel by die trokkie wat dit daar verkoop.
    Ek en Liehet kry toe sulke elektriese scootertjies waarmee mens kan ry as jy dit scan op 'n app. Jy los dit net weer langs die pad as jy klaar is, dan kan 'n volgende mens dit gebruik. Ons ry so 5.6km om weer by die busstasie uit te kom. Jy ry in die fietsrybaan en als is baie mooi ingerig daarvoor. Op sekere plekke moet mens ongelukkig in die pad ry saam met die karre, asook telke male op 'cobblestone' strate wat jou brein weer in plek skud.
    Toe ons terug is in Centraal area gaan kyk ons na Manneken pis en kry vir ons belgiese frites met truffle mayonnaise (maar dis nie iets om oor huis toe te skryf nie). Ons vat die trein terug Noorderkempen toe en stap toe huis. En gaan slaap baie lekker!
    Read more

  • Day 4

    Brugge

    June 13, 2022 in Belgium ⋅ ☀️ 17 °C

    Ek het vroeg (wel 8uur) saam met Liehet trein gery tot in Antwerp, want sy moes klas toe gaan. Ek het toe 'n panini by Panos geëet en rond gestap in Antwerp tot 10:00 wat die Base oopmaak waar ek my simkaart moes koop. Daar is baie min winkels oop op 'n Sondag, so ek kon nie 'n simkaart kry nie.
    Daarna is ek Brugge toe met die trein. Ek loooooove Brugge, dis só mooi. Ek het 'n fiets gehuur en rondgery in die straatjies en op die ou einde na die plein toe gegaan. Van daar af het ek gestap Torture museum toe, waar hulle meer as 100 uitstalling het van martelingstoestelle - so interessant. Maar ek moes toe 'n powerbank gaan koop, want ek het myne vergeet, en met al die gps en foto's hou die battery nie te lank nie.
    Ek is toe historium toe, waar hulle die prentjie skep van hoe dit was om in vroeër jare in Brugge te bly en handel te dryf.
    Ek het toe terug gery Antwerp toe en saam met Liehet gaan 'koffie' drink by haar kampus saam met haar klasmaats. Daarna is ons huis toe.
    Read more

  • Day 5

    Kinderdijk

    June 14, 2022 in the Netherlands ⋅ ⛅ 19 °C

    Lekker laat oggend gehad, toe het ek en Liehet Kinderdijk toe gegaan. Daar het ons fietse gehuur en langs die 'dijke' afgery en die windmeule, en museums besoek.
    'n Derde van die land lê onder seevlak en aanvanklik is die windmeule gebruik om die water uit te pomp, maar dis later oorgeneem deur elektriese pompe. Toe die water uitgepomp is en die grond begin droog raak het dit begin sak, soos 'n spons wat uitgedroog word.
    Die windmeule by Kinderdijk is 'n Unesco world heritage site. 2 van hulle is museums en oop om in te gaan en te kyk, maar die res het mense wat in hulle bly, met die voorwaarde dat hulle dit in stand moet hou.
    Ons het toe 'n stroopwafel geëet en teruggegaan Noorderkempen toe, vanwaar ek die trein gevat het Amsterdam toe, en toe die bus tot by die Loftusse.
    Read more

  • Day 6

    'n Dag in Amsterdam

    June 15, 2022 in the Netherlands ⋅ ☀️ 21 °C

    Ek het 'vroeg' opgestaan (7uur) en bus en trein gery Rijksmuseum toe. Daar is nie rerig woorde wat die Rijksmuseum kan beskryf nie. Ek dink mens moet minstens 'n hele dag daar spandeer. Dis so ryk aan kuns en geskiedenis, selfs die sale is geskiedkundig. Hulle is tans besig om die Nagwag van Rembrandt te restoureer. Sjoe. Ek kan nie regtig veel sê nie, dis iets wat mens self moet beleef. En waarvoor ek moet terugkom.
    Daarna het ek vir Tiané gekry vir middagete in Amsterdam by Winkel 43, wat bekend is vir hulle appeltert. Sy praat al Nederlands soos 'n Nederlander.
    Jancke het my daar kom kry en toe loop ons bietjie deur die strate en gaan eet 'n nederlandse pannekoek. Dis 'n dikker pannekoek met appel en kaas in.
    Daarna het ons op 'n kanaal 'cruise' gegaan deur die kanale in Amsterdam. Mal interessant. Al die huise is teenaan mekaar gebou en omdat die grond so nat is sak van die dele en die huise staan skeef. Elke huis het ook 'n katrol met 'n haak aan die bokant, waar hulle in vroeër jare die speserye ens op katrol het (en nou die meubels as mense trek) sodat dit in die boonste verdiepings gestoor kon word, omdat daar so baie vloede was, want dit lê onder seevlak. 'n Klein botteltjie peper het omtrent dieselfde gekos as 'n huis. Die man wou egter nie dat ek vir hom peper bring in ruil vir 'n huis nie. How times have changed...
    Die huise het ook almal verskillende tekens in die vensters bo hulle deure. Dis gebruik vir aanwysings omdat mense nie kon lees in daai tyd nie, tot Napoleon Bonaparte begin het met huis nrs.
    Ons het toe verder deur die strate en winkeltjies geloop. By Rokin metrostasie het ons met die roltrap afgegaan, want tussen die roltrappe is 'n glaskas met alles wat hulle opgegrawe het toe hulle die stasie gebou het. Daarna het ons krokette gaan eet by Van Dobben en blommemark toe gegaan.
    Op Damplein het ek gesit en die mense gekyk, met die duiwe wat almal gelyk opstyg en in 'n sirkel vlieg terwyl 'n omie sit en saksofoon speel.
    Jancke het my daarna na die biblioteek gevat waar sy altyd gaan studeer het. Dis baie hoog, so mens kry 'n mooi uitsig van die stad.
    Ons het toe deur die rooiligdistrik gestap en huis toe gegaan.
    Read more

  • Day 7

    Zaanse Schanz en Utrecht

    June 16, 2022 in the Netherlands ⋅ ☀️ 21 °C

    Ek het saam met Jancke se ma en vriendin gery en hulle het my by Zaanse Schanz gaan aflaai. Daar het ek rondgeloop en gaan kyk hoe maak hulle kaas - dit vat 10 liter melk om 1 kg kaas te maak van koeimelk. Hulle het klomp verskillende soorte kaas en hou 'n demonstrasie om te wys hoe om kaas te maak. Ek het toe verder gestap na die klompe winkel, waar hulle 'n demonstrasie doen van hoe om klompe te maak. Dis baie interessant, en ek dink dit was baie harde werk vroeër. Elke area se klompe lyk anders en mens kon vroeër sien waar iemand vandaan kom deur na hulle klompe te kyk. Wanneer die klompe uitgedroog is en hard is, kan n kar oor hulle ry en hulle het 'safety clearance'.
    Ek het toe gestap na die windmeul wat oop is, wat gebruik word as 'n klipmeul, met 300kg klipwiele wat sandsteen maal as die wind waai. Hierdie spesifieke meul word gebruik om olieverf te maak.
    Ek is hierná Utrecht toe, waar ek na die Speelklok museum toe is. Hulle het klomp outomatiese musiek masjiene en die hele geskiedenis daarvan. Elke uur word daar 'n begeleide toer gedoen en dan word die musiek gespeel.
    Na die speelklom museum het ek langs 'n kanaal gaan sit en by Winkel van sinkel 'n glasie vonkelwyn gaan drink tot Brogen gekom het. Ons het rondgeloop deur die straatjies en by 'n kaas restaurant, waar die verskillende kase met toppings op 'n band verbykom soos sushi, gaan eet en sap drink. Ons het toe verder rondgeloop en later gaan eet by 'n oosterse restaurant, wat baie lekker was.
    Ek vat toe die verkeerde bus en kom eventually 23:30 by die huis aan.
    Read more

  • Day 8

    Kaasmark en Leuven

    June 17, 2022 in Belgium ⋅ ☁️ 26 °C

    Elke Vrydagoggend van April tot September is daar 'n kaasmark in Alkmaar op die waagplein. Dit gebeur al sedert 1365 en word steeds vandag op die tradisionele manier gedoen. Al die kaas word vroeg die oggend uitgepak en dan gedra deur die kaasdraers na die skaal, want daar was net een skaal, en geweeg. Dit word dan verhandel. Die kaasdraersgilde reël en onderhou die mark.
    Daarna het ek Leuven toe gegaan en vir Tina op die stasie gekry. Ons het toe deur die bondgenotelaan gestap en by Notre dame restaurant gaan eet, waar Olivia ons gekry het. Dit het gevoel asof daar niks tyd verloop het sedert hulle in Suid-Afrika was nie, maar dit was al vyf jaar terug.
    Na ete het ons deur Leuven geloop. Dis 'n universiteitsdorp, met oulike restaurantjies en die langste 'bar' in Europa, wat basies net n klomp plekke aanmekaar is en dan sit almal buite by stoeltjies en tafeltjies en kuier. Ons het ook deur Begijnhof, 'n parkie en die ou stadsmure gestap, en gekyk waar het Oliva skoolgegaan en Tina gebly terwyl sy geswot het. Ons het die aand afgeëindig met 'n kersie-appelsap en spekuloos tiramisu by 'n straat restaurantjie waar hulle altyd gekuier het as studente.
    Olivia se kêrel maak e-bikes so sy het met hare gery en ons is toe almal na my hotel toe, want ons was te laat vir check-in. Gelukkig was daar toe iemand wat skoonmaak wat ons gehelp het om in te kom.
    Read more

  • Day 9

    Aankoms in München

    June 18, 2022 in Germany ⋅ ☀️ 27 °C

    Ek het 'vroeg' probeer uitcheck, maar daar was niemand wat my betaling kon vat nie, so ek moes wag tot hulle 07:00 aan diens kom. Ek is toe stasie toe en het die ICE trein gevat na Munich. Dit was bietjie deurmekaar want die kaartjie kantoor kon nie vir my 'n kaartjie verkoop nie omdat die trein binne 10 min daar sou wees, so hy sê toe ek kan 'n kaartjie op die trein koop. Die man op die trein sê toe dit werk nie regtig so nie, ek kan probeer om een te koop op die internet, maar dit wou dit nie verkoop nie omdat die trein reeds weg is uit die stasie uit. Hy sê toe ek kan net by die volgende stop 'n kaartjie koop, maar net voor die volgende stop maak hulle 'n afkondiging dat die trein nie verder gaan ry nie en almal moet oorklim op ander treine.
    Ek koop toe 'n kaartjie by die treinstasie en klim op die volgende (baie vol) trein, waar ek (en klomp ander mense) tot op die eerste stop in die gangetjie gestaan het. En dis mal warm. Maar ek het darem sitplek gekry by die volgende halte tot in Munich. Die trein ry tot 300km/h en dis so mooi groen hier. En in Duitsland moet mens nog maskers dra op publieke vervoer. Maar dis al. En dit maak nie sin nie.
    By Munich het ek die ondergrondse trein en tram gevat hotel toe. Daarna het ek vir Wilhelm gaan kry in die stad en ons het iets gaan eet by 'n regte duitse restaurant, waar hulle tradisionele duitse klere dra (selfs die griek, Niko, wat ons bedien het). Daarna het ons deur die stad en parkies gestap en na al die mooi geboue gekyk. Oral is mooi (baie) ou geboue en fonteine.
    Ons sluit ons aand af met 'n bier (en ek met 'n Johannisbeeren sap - dis een of ander bessie en vir nou my gunsteling) in 'n biertuin agter 'n restaurant. Die restaurante het sulke donkerhout afwerkings wat glo eie is aan Beiere en almal is baie jolig oral.
    Read more

  • Day 10

    'n Dag in Munich

    June 19, 2022 in Germany ⋅ ☀️ 30 °C

    Ons het die dag begin met die rooibusse (hop on hop off). Hulle het 3 roetes wat elk 'n uur neem, deur die stad, Nymphenburg paleis toe en deur Schwabing. Daar is so baie geskiedenis en sulke mooi geboue. Ek het altyd gewonder wat die groot ophef is oor al die geboue in Europa wat almal so post op hulle vakansies... tot mens voor hierdie geboue staan. En die kerkklokke lui en dit voel of jy in 'n fliek is.
    Ek het sonbrandroom in my oog gekry, wat toe baie brand en my oog laat swel, so na die busse is ons eers na Wilhelm se hotel om oogdruppels te kry. Dis regtig handig om in sulke situasies saam met iemand te reis wat spesialiseer in oftalmologie, want waar anders sou ek oogdruppels kry? Alles in Duitsland is toe op 'n Sondag, daar is net 'n paar enkele restaurante en museums oop.
    Ons het toe gaan eet by 'n straat restaurantjie en die trein gevat na BMW museum en die olimpiese park. Die BMW museum is nog besonders. Dit het die hele geskiedenis van BMW en modelle van die karre, motorfietse en vliegtuig enjins, asook die kleimodelle van die karre en nog baie goed. Ook, BMW maak Rolls Royce. Interessant - wanneer hulle aan 'n nuwe model werk en dit toetsbestuur plak hulle hom met 'n film vol swart en wit lyne in verskillende rigtings sodat mens nie die vorm van die nuwe model kan uitmaak tot dit vrygestel word nie.
    Na die museum het ons na die 'welt' gegaan waar klomp nuwe karre uitgestal is. Die elektroniese karre is amazing. En daar was 2 Rolls Royce karre.
    Ons is toe olimpiese park toe, waar Wilhelm in die olimpiese swembad gaan swem het. Daarna is ons na die Englischer Garten. Dis 'n groot park in Munich waar mense piekniek hou op die groot grasperke en sport speel, mense ry fiets of stap deur die park, en daar is 'n rivier wat daar deur hardloop waar mense (en Wilhelm) inspring en afswem, en daar is selfs plekke in die rivier waar hulle surf.
    Daarna het ons 'n bier (en ek weer my gunsteling Johannisbeere sap) gaan drink en aandete geëet (alhoewel ek net apfelstrudel met vanilla sous geëet het - die Duitsers se porsies is massief).
    Ons het toe teruggestap deur die park en vir oulaas iets gaan drink by die restaurant waar ons die eerste aand geëet het. Ons het toe gaan slaap, want more moet ons albei vroeg weer vertrek na ons onderskeie plekke.
    Read more