Kanada en Alaska winter

December 2022 - January 2023
A 15-day adventure by Marise Read more
  • 14footprints
  • 2countries
  • 15days
  • 140photos
  • 0videos
  • 11.9kkilometers
  • 9.5kkilometers
  • Day 1

    SA tot Kanada

    December 27, 2022 in Canada ⋅ ⛅ -2 °C

    So baie vlugte. Ek was meer in die lug as op die grond. Die oggend van 26 Des het ek gepak en ons is George lughawe toe, waar ons Lize-Mari, wat saam my gewerk het in Oudtshoorn, vir koffie gekry het voor ek Johannesburg toe gevlieg het met Cemair. Hierdie vliegtuig was darem groter as die een waarmee ons van Bloem af George toe gevlieg het - hy het net 1 sitplek aan elke kant van die paadjie gehad en mens kon sien hoe die vlieëniers vlieg - dis oop tot voor.
    My vlugte is ook gekanselleer die oggend, agv die weer in Kanada - die ergste sneeustorm sedert êrens in die 1980's. United het my darem gebel die oggend en my vlugte op 'n ander lugredery bespreek.
    Ek het 22:00 begin vlieg (daar is nou 'n sjokolade Amarula beskikbaar - dankie Duty Free) na London. Heathrow is toe nou werklik so bietjie groter as Johannesburg se lughawe. Mens ry weer met bussies tussen terminale. Daar was die mooiste sonsopkoms darem. En 'n ou wat op sy tas rondry, want dis elektronies. Weird.
    Die layover in Londen was omtrent 7 ure, maar Air Canada het my toe op 'n vroeër vlug gesit en ek het darem so 15:00 by Toronto aangekom, waar hulle die proses om deur doane te gaan baie makliker gemaak het, want meeste goed is nou elektronies. Dit werk baie lekker.
    Ek het net met handbagasie gereis so als het baie maklik gegaan. By die plek waar die hotel shuttle my moes oplaai is 'n foon met kort kodes van al die hotelle so dan bel mens hulle van die lughawe foon af, soos in New York. In New York kan jy ook karverhuringsmaatskappye so bel.
    By die hotel het ek 'n super lekker, groot kamer en 'n baie lekker stort, alhoewel ek dink enige stort op daai stadium sou lekker wees.
    Ek het toe gestap (in die koue en donker - maar ek love dit altyd om, veral die eerste nag, te gaan stap as ek oorsee is, omdat dit veilig is) en gaan Horton's kry. Beste ooit. Dit was nogal koud. Ek dink nie ek het al die regte klere vir Alaska as Kanada so koud voel nie.
    By die hotel het ek net gaan slaap sodat ek môreoggend bietjie Toronta kan gaan verken voor ek verder vlieg Abbotsford toe die middag. Kan nie wag om Bets-hulle te sien nie.
    Read more

  • Day 2

    Kuier in Vancouver

    December 28, 2022 in Canada ⋅ 🌧 5 °C

    Ek het gister net gereis tot in Vancouver. Ek het die oggend opgestaan en klaargemaak en toe met die shuttle lughawe toe gegaan. Ek wou my goed stoor op die lughawe en dan na die CN tower toe gaan, maar toe ons by die lughawe aankom besef ek ek het my rugsak vergeet waar ek gesit het by die hotel en ry maar weer met die shuttle terug en terug lughawe toe. Ek sou die tyd te fyn sny as ek toe CN tower (of enige plek) gaan, en gaan toe maar deur na my hek toe. Wat eintlik 'n bedekte seën was, want ek het my boarding pass in die sekuriteitshouer vergeet en dis toe weg, so ek moes weer uitgaan om 'n nuwe een te kry en weer deur sekuriteit gaan, maar my hek was ook omtrent 20 min se loop ver, volgens die sekuriteitsbeampte. Mens loop onderdeur die dele waar die vliegtuie parkeer. Die kanadese en Amerikaanse publieke toilette is iets waarop hulle kan verbeter... beslis. Die onderkant van die deur is groot oop, en aan beide kante van die deur self is skrefies oop. Mense kla altyd daarvan, maar ek het vir julle 'n foto geneem.
    Ek is uiteindelik op die vliegtuig, wat alweer vol was (die vliegtuie is baie vol oor hierdie tyd) en het in Abbotsford aangekom, maar Bets-hulle was in verkeer so ek moes 'n rukkie wag. Ons ry toe om die 20:00 ferry te maak, maar kom 2 minute laat (as ons net nie 2 keer te laat vir die gps geluister het nie...), so ons gaan kry toe lekker 'root beer' by A&W en gaan terug ferry toe. Oral langs die pad staan nog groot hope sneeu wat weggeskraap is. Op die ferry het ons gaan aandete eet (die vloeistowwe hier kom in sulke weird hoeveelhede hier, soos 591ml bottels water) en toe gaan slaap in die kar. Ek het nie eers gehoor toe ons afry nie, ek het wakker geword toe daar klomp boodskappe op my foon deurkom - home is where the wifi connects automatically... en waar Bets mens intuck as jy wil slaap.
    Read more

  • Day 3

    'n Dag met die familie

    December 29, 2022 in Canada ⋅ ⛅ 7 °C

    Paul het 06:00 Hortons gaan koop toe hy sy vleis opgetel het vir die biltong. So ek het wakker geword met Hortons... die hele rede hoekom Kanada bestaan. Eintlik is dit spesifiek vir die canadian maple doughnut. Mount Baker het ook vir die eerste keer ooit sy kop uitgesteek en ons kon hom sien oor die see.
    Ons het klaargemaak en Matt se basketball wedstryd gaan kyk by UVic. Hy het 'n beurs gekry om daar te gaan swot volgende jaar, agv sy rugby. So trots op my cuzzy. Ook, dis die eerste keer dat ek 'n basketball wedstryd sien. Daar is so baie reëls, en dis baie verwarrend. En dis baie squeaky. Hulle tekkies squeak die heeltyd.
    Cordél kom verras ons toe en kom kyk 'n stukkie saam met ons - sy kon ten minste die reëls vir my verduidelik, want sy het self gespeel. Dit het ook beteken sy skel hulle meer. Haha. Cordel kom toe huis toe en ons ry gou om klere te gaan koop vir Alaska, verby die strand waar 'n man klomp diere maak uit dryfhout. Cordel het 'n cute klein swart Mini, maar sy jaag so tussen die verkeer deur met hom. Érens ry daar 'n kar voor ons met die grootste hond in, hy was so ongelukkig daar, ons moes dit net afneem.
    Vir aandete kom kuier Chrissa en haar nuwe kêrel, George, en ons en Cordel ontmoet hom vir die eerste keer. Hy speel professioneel rugby en is 'n brandweerman en baie oulik, want hy het 'n aand saam met ons almal oorleef.
    Daar staan nog steeds hope sneeu oral, en die bakkies hier is massive. My kar is klein teenoor hulle.
    Tannie Sarie was nog steeds (van die 21ste af) vir haar bagasie, en Lufthansa antwoord nie hulle foon nie.
    Read more

  • Day 4

    Seestappie en Seattle

    December 30, 2022 in the United States ⋅ 🌧 9 °C

    Ons het vroegoggend (wel, nie so vroeg nie, maar 08:00 toe die son opkom) gaan stap op die strand. Dit was effens reënerig, maar die kanadese gee nie om nie, hulle doen watookal hulle wil, maak nie saak hoe die weer lyk nie. Daar was selfs iemand wat in daai yskoue water geswem het.
    Terug by die huis, het ons gou wasgoed gewas, gepak en nog die laaste bietjie kuier ingekry. Daarna is ons lughawe toe om Seattle toe te vlieg via Vancouver. Die vlug van Victoria na Vancouver is 11 minute se vlieg - die beste van alles... opstyg, klein bietjie turbulensie en dan land. Die klein vliegtuigies land teen 'n hengse spoed. Of dit voel so. Op die lughawe is daar selfs toilette waar jy kan gaan met jou hond. Hulle maak ook van die krane en reëlings, ens uit koper, want dit help glo om nie Covid ens te versprei nie. In Suid-Afrika sou hulle die lughawe gesteel het, ek is seker.
    In Seattle het ons met shuttle hotel toe gery en basies dadelik kom slaap, want môreoggend se vlug is vroeg.
    Tannie Sarie het nog steeds nie haar bagasie wat al die 21ste weggeraak het nie.
    Read more

  • Day 5

    Juneau

    December 31, 2022 in the United States ⋅ 🌧 2 °C

    Ons het vroeg die shuttle gevat na die lughawe toe, maar die vroegste shuttle was 'n iur en 'n half voor ons vlug en Seattle lughawe is baie besig in die oggend. Dis nogal 'n groot lughawe. Ons moes nogal vinnig maak om betyds te wees, maar ons het dit darem gemaak.
    Toe ons in Juneau aankom het Michelle vir ons 'n kar gebring wat ek op Turo bespreek het. Turo is soos airbnb vir karre. Mens betaal goedkoper as wat dit sou wees om 'n kar te huur en daar is nie 'n deposito nie. Mense met ekstra karre wat dit nie gebruik nie, verhuur dan hulle karre so. Op die app word daar ook reviews gegee van die toestand van die kar, ens, so dit werk baie lekker.
    Ons het gery en gesoek vir 'n selfoonwinkel sodat ek 'n simkaart kan koop, want om een of ander rede kan my foon nie 'n e-sim vat nie - sal dit moet kom uitsorteer as ek in SA is.
    AT&T is al wat oop was en hulle sê die netwerke het verander so hulle simkaarte kan nie meer op internasionale toestelle gebruik word nie. GCI sal my dalk kan help, maar hulle is nie naweke oop nie. Ons is dus sonder sein daar weg.
    Die padtekens is darem duidelik en ons het 'n kaart van Juneau op die lughawe gekry. Ons ry toe die pad Noord uit Juneau, wat die mooiste sneeu landskappe het (belowe die foto's is nie in wit en swart geneem nie, dis in vol kleur). Ons het eers omgedraai toe die pad eindig en mens nie meer verder kan ry nie.
    Toe ons terug is, is dit amper 15:00 en die son gaan 15:30 onder dan is dit nag. Ons gaan eet by 'n oulike filipynse restaurantjie en bespreek sommer verblyf langsaan by die Frontier suites. Na ete ry ons eers Fred Meyer toe - dis 'n groot supermark met alles en nog wat, asook 'n drive thru apteek. Ek dink ek het bietjie aangesteek by arme Paul wat siek is, want ek voel ook nie te lekker nie. Al wat mens kan kry sonder voorskrif is Tylenol (Panado) en Brufen en allergie goed. Niks ordentlike verkoue medisyne nie en niks keelsprei nie.
    Van daar af is ons blyplek toe en het dadelik gaan slaap. Die vuurwerke is gekanselleer want dit reën te veel vandag.
    Read more

  • Day 6

    Mendenhall gletser en ysbeerswem

    January 1, 2023 in the United States ⋅ 🌧 1 °C

    Ons het opgestaan en Mendenhall gletser toe gery. Dis darem baie naby. By die gletser het ons uitgeklim en gestap na die gletser toe (wel, nie heeltemal nie, net nader, want die ys het baie water bo-op, agv die reën en dis glo nie veilig om op dit te loop nie. Ons het gestap tot waar ons kan. Daar was 'n groot stuk gletser wat afgebreek het, en in die verte is 'n waterval wat nog loop. Dit bly ongelooflik mooi. By die gebou bo die gletser is 'n rooi leertjie wat net daar lê vir as iemand inval. Ons het ook gou agtergekom mens moenie die gladheid van die ys onderskat nie en val gebeur vinnig. Veral as mens nie sneeuskoene aanhet nie. Die non-slip sole help net 'n bietjie, maar nie op die ys nie. Mens moet skoene met 'spikes' aantrek, of sulke kettinkies oor mens se skoene wat spikes aan die onderkant het.
    Daarna is ons terug Fred Meyer toe om te kyk vir skoene om die Polar bear dip te doen, want die strand is glo vol klippe. Ons is toe na Auke recreational park om die polar bear dip te doen. Dis 'n nuwejaarstradisie in baie dele van Alaska. 13:00 op 1 Januarie hardloop almal in die see in en kom weer uit. Jy mag nie langer as 2 minute binne bly nie (jy wíl ook nie, glo my) want dan is dit gevaarlik. Daar is mense van die brandweer departement wat seker maak almal is veilig.
    Mens begin uittrek en regmaak by so 2 minute en dan is daar 'n 10 sekonde count down en dan hardloop almal in die see in en hardloop uit. Ek kon nie my voete voel nie. Dit was mal koud. Bo by die hut trek ons toe weer aan en gaan kar toe, verby 'n Totem pole wat al baie lank daar staan, maar onlangs gerestoureer is.
    Ons ry toe en gaan eet by die 'Hanger', 'n oulike restaurant op die hawe met 'n vliegtema. Daarna ry ons deur Juneau en al die pad suid tot die pad stop. Daar is 'n 2 myl area met bordjies wat sê 'Avalanche area, do not stop for 2 miles' en dan is daar 'booms' wat seker toegemaak word as daar 'n avalanche was. Die bome staan almal bietjie skeef en mens kan sien daar is klomp bome wat omgeval het. Die huise is teen baie skerp opdraendes en afdraendes gebou. Ek weet nie hoe ry hulle karre daar as dit so ys nie.
    Terug in die dorp het ons oor die brug na die anderkant gery. Hier is baie meer huise en woonstelgeboue, so ek neem aan dis waar meeste mense bly.
    Ons gaan toe terug Fred Meyer toe om geskenkies te soek, want hulle het 'n oulike geskenke afdeling. Ek sien toe ons vlug vir vanaand is gekanselleer, so ons ry toe lughawe toe om te hoor wat aangaan. Alaska airlines sê darem is ons deel van die vlug nie gekanselleer nie. Die vlug was van Seattle na Ketchikan na Sitka en dan na Juneau, maar hulle kon nie in een van die ander 2 plekke land nie, so almal is nou in Juneau tot die volgende oggend, want hulle was reeds in die lug toe hulle nie meer kan land nie.
    Ons gaan maak toe die kar vol 'gas'. Wel... probeer. By die eerste vulstasie is nie enige iemand wat werk nie, so ek vra toe die man wat langs my petrol ingooi of hy my kan help. Hy was baie gaaf, maar die kaarte wou nie werk nie, want hulle kort 'n zip kode. Hy sê toe hy sal sommer betaal vir my petrol, maar sy kaart wil toe ook nie werk nie. Hy sê toe ons moet agter hom aanry en hy vat ons na 'n vulstasie waar iemand werk. Daar het ons gelukkig reggekom.
    Van daar af is ons terug lughawe toe, waar ek die kar net in die parkeer area gelos het met sy sleutel in 'n spesiale houertjie (ek neem aan dis soos die kaarthouers wat seine blok) want die kar sluit homself, maar nie as die sleutel nog in hom is nie. As die sleutel in die houertjie is sluit hy ook homself. Michelle kom haal dan die kar wanneer sy kan.
    Die lughawe is klein en ons is vinnig deur alles. Die vliegtuig is lekker leeg so ons het baie spasie. In Anchorage kom laai Chris en Carla, by wie ons gaan bly, ons op. Ons het op couchsurfing plek gekry by hulle en gaan sommer by hulle self 'n kar huur.
    Chris het aviation management geswot, maar hy en Carla verkoop nou huise. Sy is van Venezuela en hy lewe nog sy hele lewe in Alaska.
    Read more

  • Day 7

    Anchorage en dog-sledding

    January 2, 2023 in the United States ⋅ ⛅ -1 °C

    Die kamer was bietjie warm so ek word toe wakker en loop om die venster bietjie oop te maak... en sien 'n 'moose' (Google sê in Afrikaans is dit 'n Amerikaanse eland - ek gaan hou by moose) in die sneeu reg voor die venster lê. In Anchorage - in die stad. Hulle 'antlers' val af aan die einde van broei seisoen, agv hulle testosteroonvlak. Sê google. Want almal vra hoekom het die moose nie horings op nie. Hy het weggehardloop toe die honde begin blaf.
    Ons het toe 'n kar, rav4, gekry wat ons huur by die mense by wie ons bly, en gery na Middleway café om ontbyt te eet saam met Donna-hulle. Donna-hulle is die gesin by wie Dorothy vir 'n jaar gebly het as uitruilstudent. Hulle is baie oulik. Marguerite reël toe sommer vir ons dat ons die middag kan gaan hondeslee ry. Ek en tannie Sarie eet omelette met 'reindeer sausage' in, want mens moet dit glo eet in Alaska.
    Van daar af ry ons na Snowhook in Willow, waar ons gaan hondeslee ry. Die pad is baie mooi, maar binne 5 minute vandat ons afgedraai het van die hoofpad af, is dit 'n sprokieswêreld. Die foto's vang nie eers 'n bietjie van die werklikheid vas nie. Dis ongelooflik.
    Snowhook het 68 honde, waarvan omtrent 50 aktief deelneem, die ander is ou honde of te jonk. Hulle neem ook elke jaar deel aan Iditarod.
    Robin het my en tannie Sarie op 'n slee gevat. Eers het tannie Sarie voor in die mandjie gesit en ek het agterop gestaan, agter Robin. Die 'musher' staan voor en dan nog iemand agter. Dis amper soos ski's waarop mens staan, langs die kante en dan is daar 'n rem en 'n rubberplaat om hulle stadiger te maak of te stop. Ons het deur die woud gery, wat letterlik soos 'n sprokieswêreld lyk en 'n paar keer by moerasse uitgekom, wat toe gesneeu was. Die honde luister baie goed vir bevele - 'ha' beteken links en 'gee' beteken regs. En hulle luister. Dis amazing.
    Die huisies waarin die honde bly is omtrent 1 meter van die grond af, maar toe gesneeu sodat dit lyk of dit op die grond is. Dis moeilik om op sagte, 'warm' sneeu te loop, maar die koue, harde sneeu is baie lekker. Dit kraak onder mens se voete, soos fomolite.
    Ons het sulke onesie sneeupakke aangetrek, so dit was darem glad nie koud nie.
    Van daar het ons teruggery en 'n stuk in die donker gery al was dit nog nie eers 16:00 nie. Ons het by Fred Meyer gaan bestanddele koop en vir die mense by wie ons bly Bobotie gemaak. Daar was glad nie blatjang nie, en hulle ken glad nie blatjang nie, maar tannie Sarie het maar appelkooskonfyt en asyn ingesit. Dit was heel lekker.
    Read more

  • Day 8

    Conservation en eerste Aurora

    January 3, 2023 in the United States ⋅ ⛅ 4 °C

    Ons langs Alaska 1 afgery tot by die Alaska Wildlife Conservation Centre, al langs Turnagain arm. Dis 'n ongelooflike mooi pad. Ek en ouma het in 2016 ook hier gery, maar in die somer. Ons het daardie keer 'n Beluga walvis gesien. Nou was daar baie minder water en baie meer modder en ys. Beide kere is onbeskryflik mooi gewees.
    Dit was nogal koud. By die conservation centre is al die paadjies vol ys, so ons ry toe maar die pad en klim net oral uit om te kyk. Dis soos 'n dieretuin met bietjie groter hokke, so mens kan die diere darem meeste van die tyd sien.
    Ons ry toe terug en maak 'n draai by Alaska Wildberry Products, 'n groot souvenir winkel, met die grootste sjokolade fontein in die wêreld. Dis nogal indrukwekkend. Daarna is ons na die Ulu-mes fabriek om te kyk wat hulle het. Minder indrukwekkend as die Wildberry Products.
    Ons ry toe terug, maar trek geld oppad, en gooi weer petrol in - hierdie keer met minder uitdagings. Ek is nou 'n 'Alaskan' - watookal dit in Afrikaans is.
    By die huis gekom, pak ons gou die laaste goed. Chris en Carla is nie daar nie en Carla se pae n ma gaan laai ons af by die lughawe, net betyds om die 40 min afsny tyd vir incheck te haal. Net-net. Ons is deur die sekuriteit en na die hek toe, en het gelukkig ons vlug gemaak. En ons bagasie het by ons uitgekom in Fairbanks - altyd 'n bonus.
    Ons het op die vliegtuig vir die eerste keer die Aurora gesien.
    In Fairbanks kom laai Kevran en Lareena ons by die lughawe op. Ons gaan by hulle huis bly deur coughsurfing. Hulle gaan oormore weg vir 'n funksie waar almal hulleself in die middeleeue inleef. Hulle het klere vir die rolle en geskenke wat hulle vir die 'koning en koningin' moet vat. Dis glo 'n wêreldwye ding. Baie interessant.
    Hulle het 'n groot wêreldkaart in hulle huis op waar almal 'n pennetjie insteek wat al by hulle gebly het, en elke jaar het verskillende kleure pennetjies. Ons is die eerstes om hierdie jaar daar te bly. Dis nogal indrukwekkend.
    Read more

  • Day 9

    Noordpool en Chena hot springs

    January 4, 2023 in the United States ⋅ 🌙 -15 °C

    Ons het vanoggend bietjie laat wakker geskrik. Dit word eers omtrent 10:00 lig hier. Ons het klaargemaak en die Turo kar by die lughawe gaan haal. Dis 'n Jeep, maar mens moet karre hier inplug om die olie en goed warm te hou sodat dit nie vries nie. By baie plekke het hulle muurproppe buite en die kar het 'n plug wat aan die voorkant uitsteek, wat mens dan met 'n verlengingskoord inprop terwyl die kar afgeskakel is, veral as dit oornag is. Of mens kan dit so 2 ure voor mens ry inprop.
    Van die lughawe af ry ons Noordpool toe en ry bietjie deur die dorp tot ons by Santa Clause house uitkom. Daar het ons bietjie rondgeloop en warm 'cocoa' gedrink en 'n koekie geëet.
    Ons ry toe om 'n plek te probeer kry om te snowmobile, maar dis toe. Oe, ek het ook 'n paar keer bietjie gegly op die ys, maar die Lyft bestuurder wat ons lughawe toe gevat het, het gesê mens moet net nie rem trap dan nie. So ek het nie.
    Terug in Fairbanks gaan ons na die inligtingsentrum. Dis baie indrukwekkend. Ek en ouma was ook laas daar. Daar is klomp vertrekke met uitbeelding van hoe lewe lyk, beide in die natuur en vir mense, in elke seisoen in Alaska.
    'n Gawe werker help ons toe om die goed te beplan en bespreek wat ons graag nog wil doen. Ons gaan kry toe ons swemklere en ry Chena hot springs toe. Dis bietjie meer as 'n uur se ry. By Chena het ons 'n 19:00 bespreking gehad om na die ysmuseum te gaan. Dit is 'n groot gebou waar alles binne van ys gemaak is. Daar is ook 4 kamers waar mens kan slaap vir 'n aand, teen 'n minimale fooitjie van $600. Daar het ook al 'n paar paartjies getrou in die 'chapel'. Die oudste ysbeeld is daar van 2005 af en het 300 ure geneem om te voltooi. Dis 2 perde en ruiters. Mens kan in die een perd 'n vertikale lyn sien deur sy nek waar sy kop beskadig was en moes oorgedoen word en weer aangesmelt is. Daar is ook horisontale lyne deur waar die groot ysblokke aan mekaar gesmelt is om die beeld te vorm.
    Ons het na die tyd elkeen 'n appletini in 'n ysglas gekry. Hulle moet elke dag omtrent 100 glase maak om genoeg te hê. Mens moet dan 'n wens maak na die tyd en die glas stukkend gooi.
    Daarna het ons in die warmwaterbronne gaan swem. Dis lekker warm, maar alles om dit is vol sneeu.
    Ons het toe gery na Aurora Pointe, waar ons tot 02:00 gewag het om die Aurora te sien, maar daar was ongelukkig heeltyd wolke so ons het niks gesien nie. Daar is gewoonlik nie wolke nie, want as dit koud genoeg is vries al die vog in die lug, maar na die sneeustorms het daar glo 'n windtonnel gevorm en nou is dit al vir 'n week 'warm' - ek sit dit in aanhalingstekens (ja, ek kan nie die regte naam vir daai tekentjies onthou nie, ek weet aanhalingstekens is dubbel en ek kon seker regte aanhalingstekens gebruik het om dit makliker te maak, maar ek het nou klaar al hierdie getik) want die temperature is tussen -15 en -19. Jip daai tekentjies is reg. Dis minus. En dis Celsius.
    Read more

  • Day 10

    Rustige dag en geen aurora

    January 5, 2023 in the United States ⋅ ⛅ -4 °C

    Ons het vroeg opgestaan (ja, ok, eers 09:00, maar dis nog donker dan) en vir Lareena en Khevron by die lughawe gaan aflaai vir hulle trip na die middeleeuse funksie. Ons het toe klaargemaak en gery Noordpool toe en gaan soek vir 'n plek waar ons kan ys visvang en sneeumasjien ry.
    Ons het by 'n oulike plek aangekom (ek het nie 'n simkaart nie, so kan nie bel nie, dus ry ons maar na al die plekke toe), wat nie plek gehad het nie, maar ons gehelp het om te probeer plek kry. Ons ry toe na Rod's toe en wag 'n uur, want niemand is in die kantoor nie. Net voor 16:00 kom daar toe 'n gids aan en ek sê vir hom ons is hier vir die 16:00 snowmobile tour - sy gesig was priceless (hulle maak eers Saterdag oop). Shame, ek sê toe ek spot net en hy sê ons moet bespreek op die website.
    Ons ry toe terug Fairbanks toe en gaan eet by Taco Bell en kry ons goed vir die Aurora fotografie episode. Michael tel ons 20:00 in Walmart se parkeerterrein op met sy bussie en vat ons na hulle huis in Delta, 2 ure se ry weg, maar dit is weg van die ligbesoedeling en het 'n groot oop area so mens kan 360° sien. Dis 'n baie mooi houthuisie met groot vensters. Die maan skyn helder so mens kan alles buite sien en die huis se ligte word afgesit so mens sit in die donker en wag vir die ligte. Die BZ, wat laag moet wees, bly ongelukkig die hele aand hoog, al lyk al die ander waardes goed, sien ons nie die noorderligte nie. Michael het ons selfs 'n uur en 'n half langer laat bly. Ons ry toe terug Fairbanks toe en kom so 06:00 daar aan.
    Mens kan seker nie in Amerika wees en nie Walmart toe gaan nie, so ek en tannie Sarie gaan loop toe deur Walmart en kry nog geskenkies, waarna ons huis toe gaan en slaap.
    Paar interessante goed - die kaart van die aarde is in Lareena-hulle se huis met die pins van almal wat al daar gebly het.
    Hulle pak oulike prentjies, bv die hartjie vir Valentynsdag, in die supermark met koeldranke.
    Hulle verkoop ook ys in Alaska. Ek is van menings mens kan dit net gaan haal op jou gras ook...
    Die kraan het 'n droëer in die pype aan die kant, so letterlik in elke wasbak.
    Omdat daar baie ys op die pad is en mens lank vat om te stop, is daar borde 'n ruk voor die verkeersligte wat mens waarsku om reg te maak om te stop nog voor die lig oranje word.
    O... en dit sneeu.
    Read more